‘Heartcry’ – Dissipelskap in Europa


Pretoria-Oos uitreik na Europa (1)

 

Sewe jaar gelede het die Kerkraad van EG Kerk Pretoria-Oos die visie gehad om my op uitnodiging van Stichting Heartcry Nederland, saam met wyle Ds Ettienne Maritz te stuur om die Woord te bedien waar die Here kragtig onder jongmense begin werk het. Nooit het ons gedink dat dit n jaarlikse uitstuur geleentheid deur die gemeente sal word, en dit ook sal uitbrei met uitnodigings na Poland en Brussels, veral met die oog op dissipelskap.

Ons sal n hele boek kan skryf oor dit wat alles die afgelope 7 jaar plaasgevind het. Ek het net weereens besef daar is verskillende mense met verskillende tradisies en aanbiddingstyle. Ek het geen begeerte om enigsins my sienings, oortuigings en tradisie te verander nie, maar my gevolgtrekking rakende dit alles, is dat die Heilige Gees op verskillende maniere in verskillende denominasies op “snaakse” aanbiddingstyle werk. Net so ook aan die ander kant die duiwel wat rondloop soos n brullende leeu en die werk van die Here probeer keer.

Die grootste nood by almal is dat die Here Jesus se laaste opdrag nie meer hulle eerste prioriteit is nie. Ek het egter op een plek in Poland gesien wat kan gebeur as net een persoon hierdie visie snap. Daar het binne 6 maande n groep van 30 dissipels ontstaan met n passie vir Jesus en verlore siele. Die visie is gedeel, en sonder dat enige kursus aangebied is, het dissipelskap spontaan as proses ontstaan. Dit alles vanuit die boodskappe oor dissipelskap die afgelope veral laaste drie jaar. Hulle het dit in Pools vertaal en in n tipe van werkstuk gedruk as raamwerk om ander te dissipileer.

Die beginsels van Heartcry SA se “Lewe in Kontak” deur Dr Francois Carr, asook boodskappe van my oor “Die dissipel in Kontak” is in die werkstuk vervat as handleiding vir die dissipels om dissipels te maak. Om mense te leer hoe Jesus Sy dissipels geroep het, en die beginsels van “Kom na My” asook “bly by My” en dan “gaan vir My” te verstaan. Hoe Jesus drie jaar tyd met hulle spandeer het. Jesus se mense, metode, maatstaf en missie om dissipels te maak.

Hulle het egter dieselfde probleem as ons in Suid Afrika, en dit is dat die leiers baie nuwe planne en programme het wat hulle elke jaar in die gemeentes aanbied, maar kom nie uit by dit, naamlik wat Jesus aan Sy dissipels geleer het in Johannes 20:21 “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle ook” Ons leer dit, Jesus was altyd in kontak met die Vader, en het Sy dissipels geroep na die nag in gebed (Mar 3:13,14)  En Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek

Jesus het Sy dissipels geroep om na Hom toe te kom (dit bly n keuse) “sodat hulle saam met Hom kon wees” (om in kontak met Hom te bly) en dan eers dat “Hy hulle kon uitstuur (om te gaan) om te preek” Jesus het van die Vader na die nag in gebed n klein groepie manne gekry om tyd met hulle te spandeer, sodat Hy hulle kan leer om ook ander te leer. Die doel waarom hulle by Hom moes bly, is dat hulle sou leer by Hom, en as Hy nie meer daar is nie, kan voortgaan met die maak van dissipels. Hoeveel dissipels is in elke gemeente vandag?

Waar ek ookal preek oor hierdie onderwerp, vertel ek die verhaal van Dr Johannes vd Colff wat hy persoonlik vir my vertel het. Toe hy in Zimbabwe gaan preek het, het hy verdwaal en vir n jong swart seun langs n eensame pad gevra waar die plek is waar hy moet gaan preek. Verbaas was hy toe die jong seun vir hom vra “Sir, do you love my Jesus?” Toe Dr vd Colff hom antwoord “Yes I love your Jesus” het die seun gevra “How do I know you love my Jesus” het Dr vd Colff vir hom gese hy is n prediker, en gaan n reeks dienste hou, het dit die seun nie tevrede gestel nie, en vir Dr vd Colff sy adres in SA gevra. Presies een jaar later kry hy toe n brief uit Zimbabwe “Sir, do you still love my Jesus”

Hoe kan ons se dat ons die Here Jesus lief het as ons ons eerste liefde verlaat het deur Sy laaste opdrag nie ons eerste prioriteit te maak nie. Luister na die waarskuwing (Open 2:2-5)  Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie. Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.

Do you still love my Jesus?

Ds. Johan Botha

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.