Die Evangelies-Gereformeerde Kerk is ‘n fundamentele kerk met evangeliese leerstellings en ‘n gereformeerde grondslag.
Ons glo dat…
- God enig in wese is, en tog onderskeie in drie persone, naamlik Vader, Seun en Heilige Gees;
- Jesus Christus die ewige en enige Seun van God is, en die enigste Middelaar tussen God en die mens;
- Jesus Christus volkome God is, maagdelik gebore is, versoenend aan die kruis gesterf het, liggaamlik uit die dood opgestaan het en tans aan die regterhand van die Vader in heerlikheid is;
- die Bybel die ewige en onfeilbare Woord van God is, en woordeliks geïnspireer is;
- alle mense van nature in ‘n gevalle en verlore toestand is. Hierdie totale verdorwenheid en geestelike doodsheid noodsaak wedergeboorte om die koninkryk van God te kan beërwe;
- die sondaar slegs deur genade uit sy verlore toestand gered kan word, deur geloof in die plaasvervangende sterwe van Christus;
- ‘n mens bewustelik tot bekering moet kom, sy sondes bely en Christus as Saligmaker aanvaar, waarna God die mens wederbaar. Wedergeboorte is ‘n bewustelike ondervinding, waarvan die Heilige Gees aan só ‘n persoon die sekerheid van saligheid gee;
- Jesus Christus persoonlik weer gaan kom, vóór die duisendjarige vrederyk. Hierdie wederkoms geskied in twee fases: by die eerste fase kom Christus in die lug sy kinders haal, en by die tweede fase kom Hy fisies op aarde regeer;
- die ware kerk die onsigbare liggaam van Christus is wat slegs uit weergebore mense bestaan, en dat ‘n getuienis van wedergeboorte ‘n voorvereiste vir lidmaatskap van die plaaslike gemeente is. Christus is die enigste Hoof van die kerk;
- die plaaslike kerk die opdrag om die evangelie te verkondig, deur plaaslike en wêreldwye evangelisasie moet gehoorsaam;
- die verlostes sal opstaan tot die ewige lewe en heerlikheid in die hemel, en die verlorenes tot die ewige verdoemenis in die poel van vuur;
- die kind van God deur die Heilige Gees vervul en instaat gestel moet word tot ‘n lewe van heiligheid en diensbaarheid;
- al die eer en heerlikheid aan Christus toekom!