Leraar’s Boodskap


Dit is vir myself en my vrou Jacoleen ‘n geweldige groot voorreg om in diens van die Here te staan en nog meer om in die sentrale wil van God te wees.

Wanneer ek ons bedizening sou omskryf sou ek sê is dit vir ons van groot belang dat die ongeredde by die kruis mag kom en Jesus Christus aan te neem as Verlosser en Saligmaker. Maar dan is dit absoluut belangrik dat die bloedgewaste kinders van God gewortel en opgebou mag wees in Hom en gevestig wees in die geloof.

Vir Pretoria Maranata gemeente is dit my verlange om u te neem onder hierdie selfde metafore wat Paulus gebruik het om die gelowiges se plek van opgewondenheid en veiligheid uit te druk en wat hy uiteindelik ook gebruik het om hulle daarin te onderrig en vastemaak dat hul so met Christus gestap het en moes stap.

Kinders van die Here word dikwels vergelyk met bome, en hierdie bome is bome van geregtigheid en immers bome deur God geplant en hul wortels is in Christus waaruit hul oorsprong is. Ja vanuit hierdie wortels, gevestig in Christus as rots, word hierdie kinders van God ook gevoed met vrugte van geregtigheid en in Hom moet hulle bly en vas staan, bly naby Hom, wandel met Hom en neem vanuit Christus al die nodige lewenskrag en voeding om ‘n lieflike vrug te lewer.

Kinders van die Here word ook vergelyk met ‘n gebou, ‘n tempel waarvan Christus die enigste en vaste fondament daarvan is. Daarom is hulle dan ook veilig en seker en word hierdie kinders van God nommerpas saamgevoeg om ‘n vaste en stabiele struktuur te vorm. So groei almal wat binne hierdie heilige bymekaar gevoeg is op tot ‘n heilige tempel vir die Here.

En binne hierdie metafore wat Paulus gebruik kom maak hy die waarheid vas dat hierdie gelowiges waarlik gevestig is in die geloof in Christus en dat hulle duidelik onderrig is in die Woord van die Here en  die waarhede van die evangelie van Christus. Ja wat spreek van harte wat gevestig is in die genadewerk van God wat net Hy alleen kan vestig en waartoe Paulus die gelowiges natuurlik oproep om dienooreenkomstig hierdie genadewerk van God in die harte te leef. Dat hulle nie verder soos kinders moet wees wat deur allerhande winde rondgeslinger word nie of weggedryf word nie. Maar bly in dit wat julle geleer en ontvang het – want julle weet van wie julle dit ontvang het- sê die Woord van die Here.

Binne Maranata gemeente is dit my verlange dat die Woord van God suiwer en in volle waarheid verkondig mag word. Dat ons as gemeente die Here saam as eenheid sal soek om in al Sy genade en heerlikheid optegroei tot volwasse kinders van God waarin ons in eenheid Hom mag dien en volg.

Verder is dit vir my belangrik dat elke siel die evangelie waardig geag mag word. Elke bloedgewaste kind van God moet tot versadiging gelei word vanuit die Woord van die Here en dat hy of sy deur die prediking en onderrigting binne die gemeente gelei sal word daartoe om dissipelskap op te neem om so dit wat hy ontvang te kan oorlewer aan ‘n ander en so toe terus om siele te bearbei vir die Koninkryk van Christus.

Ds. Andries Venter