Ons Kinderbediening (Sondagskool)
Ons kinders is vir ons baie kosbaar en daarom is die kinderbediening van ons gemeente vir ons baie belangrik. Ons poog om elke kind van kleins af te onderrig en te lei sodat hulle seker kan wees van ‘n dag wat hulle Jesus as hul Verlosser aangeneem het en sodoende seker kan wees waar hulle heengaan as hulle sou sterf. Ons wil elke kind ook toerus om geestelik te groei, daarna te streef om heiligmaking deelagtig te word en om die Evangelie aan andere uit te dra. Ons het ywerige personeellede wat ‘n passie en baie liefde vir kinders het. Die personeel doen baie moeite om elke les op die kind se vlak aan te bied.
Kinderbediening en katkisasie is elke Sondag, 10:15 – 11:15, in die saal by die kerk, behalwe skoolvakansies en langnaweke.
Vakansie Bybelskool (VBS)
Ons is die Here baie dankbaar dat ons elke jaar die geleentheid het om in die Oktober skoolvakansie ‘n VBS aan te bied. Die VBS is nie net vir ons gemeente se kinders nie, maar is ‘n pretweek vir alle laerskoolkinders. By die VBS stel ons die kinders bloot aan die Woord van God op ‘n manier wat hulle kan verstaan. Die oggend se program bestaan uit gebed en sang en ‘n vervolgverhaal waarna ‘n Bybelles aangebied word. Ons maak gebruik van verskillende hulpmiddels om die les so interessant en prakties moontlik vir die kinders te maak. Elke jaar het ons ‘n ander tema vir die week. Daar word ook elke dag ‘n uitnodiging gemaak en geestelike werkers staan gereed om die Evangelie aan kinders te verduidelik.
Daarna word die kinders besig gehou met handwerk en hope tyd vir speletjies. Daar is heerlike peuselhappies en elke middag ‘n ligte middagete. Aan die einde van die pretweek kry elke kind ‘n bywoningsertifikaat.
Ook word daar gereeld aan elke einde van elke kwartaal ‘n spesiale kinderdiens gehou vir alle kinders. Van nul tot honderd jaar.
Die hoogtepunt vil elke kind is natuurlik die prysuitdeling.
Mat 19:14: “Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”
Ons het ‘n GROOT verwagting vir wat God in die kinders se lewens gaan doen!
Vir meer inligting omtrent ons kinderbediening, kontak gerus Shawn Gorman op 082 976 6253.