Wyn – Skink en sink?? 2


WYN   –    SKINK EN SINK??

O, daar is vele opinies…  vele argumente… vele verskonings.

Maar kom ons kyk na feite volgens die Woord van God.  Wat sê die Bybel?  Wyn of sterk drank.  Mag kinders van God skink?  Mag die mensdom skink?  Of skink jy jou weg oop na die hel?  Met elke drankie, sink jy nie dalk net dieper en dieper na die ewige doderyk nie?  Waarom word daar soveel keer na wyn verwys in die Bybel?

My opinie: Dit is as alkohol ‘n groot euwel vir God en as druiwesap medisinaal vir die mens.  Daarom word daar vele maal melding gemaak van wyn.

Eerstens moet ons verstaan waar die woord wyn vandaan kom.

Die woord wyn word algemeen in ons Bybelvertalings gebruik en spesifiseer dus nie waarna werklik verwys was as wyn in die Bybelse tyd nie.

Daar was drie benamings vir wyn:

  1. Jajin: Ons vind hierdie woord 133 keer in die Bybel.  Dit word elke keer as wyn vertaal en elke keer is dit gegiste wyn,  a.w. wyn wat alkoholies van aard is.  Hierdie wyn word sterk veroordeel deur die Here.

Hab 2:15  Wee hom wat aan sy naaste drank gee, wat jou gif daarmee meng, en hulle ook dronk maak om hulle naaktheid te aanskou. 

 

Jes 5:11  Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.

Hos 4:11  Hoerery en wyn en mos neem die hart weg.

 

  1. Tirosh: (Hebreeus – vars van die pers) Die benaming kry ons 38 keer in die Bybel. Dit is ongegiste wyn, m.a.w. suiwer druiwesap.  Dit word deur God aanbeveel en is ook dieselfde wyn wat Jesus gebruik het.

1Tim5:23  Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.

Ps 104:15  en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk. 

  1. Shekar: Dit kom ongeveer 21 keer voor en word elke keer as sterk drank Dit word deur die Here veroordeel.

Spr 20:1  Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.

Jes 5:22  Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng;

Spr 31:6  Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan…

Dis baie belangrik om te verstaan dat wanneer God die woord ‘wee’  gebruik, beteken dit altyd ‘oordeel’.  Ons kan nie God se oordeel ontsnap nie.  Ons sal almal eendag voor Hom staan en rekenskap gee van ons keuses.

Heb 10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Die maak van wyn

Wanneer ons bietjie in die grafkelders van Egipte gaan rondgrawe sien ons deur hulle snywerke dat die pluk van druiwe en pars en maak van wyn, wat in kleikruike bewaar is, reeds sowat 5000 jaar terug dateer.

Druiwe vorm ‘n wit mos aan die die dop van die druif.  Dit is die gistings produk wat gebruik word om alkoholiese wyn te vervaardig.  Die druiwe word in die Bybelse tyd gewoonlik met die voet gepars, waarna die pitte en skil geskei is van die sap.  Dit word dan in kruike geberg om te gis en te verouder.  In baie gevalle is ekstra suiker of mos bygevoeg vir die gistingsproses wanneer die druiwe nie soet genoeg is nie.  In gevalle waar dit te lank gegis het, het dit dan suur wyn of asyn geword.  (Dit is wat hulle vir Jesus gegee het aan die kruis toe Hy geroep het dat Hy dors het).

Die Grieke en Romeine was baie lief vir hulle (gegiste)wyn.  Hulle het selfs die wyngod(Bacchus in Romeins) aanbid.

Volgens ‘n onlangse raming word ‘n skokkende 53 miljoen metrieke ton druiwe jaarliks regoor die wêreld geoes vir alkoholiese wyn.  Skaars 20% word geëet.

Ons kan dus onsself een eenvoudige vraag vra: “Waarom sal God wyn veroordeel en goedkeur en selfs aanbeveel as alle wyn in die Bybel dieselfde van aard is?”

Ons Skepper was en is en sal altyd dieselfde wees.  God sal nooit teen Homself spreek nie. 

Daarom kan ons aanvaar dat gegiste dronkmakende wyn en sterk drank sterk veroordeel word.  En alle wyn in die Bybel is nie noodwendig alkohol nie.  God veroordeel dit so sterk dat ons nie eers aan tafel mag sit saam ‘n dronkaard nie.

1 Kor 5:11  maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.

Ek weet,  baie kinders van God gebruik matigheid (“net een glasie”) as die verskoning om te mag drink.  Hulle word nou nie eintlik dronk nie.  Hulle sê: ‘Die Bybel sê jy mag net nie dronk word nie.’

Dis egter ook nie waar nie.  Die Woord sê uitdruklik jy mag nie eers na die wyn kyk nie.  Ek beklemtoon die woord ‘KYK’!

Spr 23:31  Afrikaans (OV) Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:

(KJV)  Look not thou upon the wine when it is red, when it giveth his colour in the cup, when it moveth itself aright.

Ek gee graag die Engels ook hier ter verduideliking. ‘ it moveth itself aright’ is die gistigingsproses wat beskryf word.

Hier word die wyn beskryf wat nie gebruik mag word nie.

Maar daar is ook ‘n wyn wat beskryf word wat ons mag drink.  Druiwesap.

Jes 65:8(Afrikaans OV)  So spreek die HERE: Soos wanneer iemand mos vind in ‘n tros druiwe en sê: Verniel dit nie, want daar is ‘n seën in—sal Ek doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie.

(KJV)  Thus saith the LORD, As the new wine is found in the cluster, and one saith, Destroy it not; for a blessing is in it: so will I do for my servants’ sake, that I may not destroy them all.

Die engels beskryf dit duidelik.  ‘In the cluster’.

Kom ons benader dit uit ‘n heel ander oogpunt net om seker te maak daar is geen misverstand nie.

Ons het definitiewe waarskuwings om nie dronk te word nie.

Maar net ‘n ietsie maak jou dalk nie dronk nie.  Ja, ons mag nie eers daarna kyk nie.  Maar indien jy nog twyfel, God sê ook ons moet altyd nugter wees.

1Kor 15:34  Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.

1 Thess 5:6  Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.

1 Thess 5:8  Maar laat ons wat van die dag is, nugter  wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.

Tit 2:2  Die ou manne moet nugter wees, waardig, ingetoë, gesond in die geloof, in die liefde, in die lydsaamheid.

1Pet1:13  Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

1Pet4:7  En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

Is ons nie dan 24/7 aan diens vir God se saak nie? 

Iemand wat drink, is nie nugter nie!  Ons vra dalk verkeerde vrae.  Ons vra hoeveel moet ons drink voordat ons dronk is.  Ons behoort te vra, hoeveel moet ons drink om nie meer nugter te wees nie.

As jy net ‘n bietjie drink…  hoereer jy ook net bietjie?  Steel jy net so ‘n ietsie nou en dan?  Moor jy net bietjie hier en daar?  Is jou owerspel net bietjie… Gaan jy net na waarsêers toe, maar darem nie na rituele nie?  Egbreek jy ook net ‘n bietjie?

Regverdig jy alle bewustelike sondes met dieselfde redenasie?  God het nog nooit gesê ons mag net bietjie sondig nie.  Kind van God,  Hy beloof ons volkome verlossing.  Nie net ‘n bietjie nie.  Soos ‘n prediker gesê het:  “Alles is mos alles”

Deut 32:3,4 Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots—volkome is sywerk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. 

 

1 Thess 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! 

 

Daar is een baie belangrike aspek wat nog nie genoem is nie:

DIE LEWENS WAT DIE DRONKAARD/DRINKER VERWOES!

Jou familie ly gewoonlik die ergste.  Jy versin dat jy hulle liefhet.  Waarom eien jy jouself die reg toe om hulle lewens te verwoes?

Waarom mag hulle soms nie eet nie, sodat jy mag drink?  Waarom moet onskuldige kinders mishandel word omdat die brandewyn jou sterk maak?  Waarom moet jou vrou strate invlug in die middel van die nag wanneer jy terugkeer van die kroeg af?  Wetend sy gaan pakslae kry en gelukkig wees as sy die volgende dag nog leef.  Waarom is dit regverdig as jou vrou in die middernagtelike ure in ‘n tranedal lê, omdat jy na ‘n ander vrou ruik?  Waarom moet ‘n onskuldige kind sterf in ‘n ongeluk omdat jy dronk bestuur het?  Waarom moet ‘n driejarige sonder ‘n mamma grootword omdat jy dink jy bestuur beter as jy dronk is?

Daar is baie dinge wat genoem kan word.  Hier is ‘n paar punte…

Jy sal arm wees.

Spr 21:17  Wie van vrolikheid hou, is ‘n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie.

Jy sal aan niemand anders as jouself dink nie.  Jy spot met ander.  Dit veroorsaak losbandigheid en onsedelike handelinge.

Gen 9:21  Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.

Gen 9:24  Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het,

Gen 19:32  Kom, laat ons aan ons vader wyn gee om te drink en met hom gemeenskap hou, sodat ons deur ons vader ‘n geslag in die lewe kan hou. 33  Hulle gee toe dié nag aan hulle vader wyn om te drink, en die oudste het gekom en met haar vader gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy gaan lê en toe sy opstaan.

Spr 20:1  Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.

Jy sal trots/hoogmoedig word.

 Jes 13:11  En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.

Hab 2:5  En bowendien, die wyn is ‘n bedrieër, ‘n trotse man is onbestendig: hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk, en soos die dood is hy, so onversadelik.

Skink en sink jy?

Rom 3:23  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 

Rom 6:23  Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here. 

Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 

Kol 1:13,14  Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,  in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes. 

Daar is verlossing en vrymaking van alle sondes in Jesus se bloed!

Kom en maak die saak uit met God!

Janine Visagie


Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

2 thoughts on “Wyn – Skink en sink??