Vrug van Liefde – Lankmoedigheid


1 Kor 13:4-8a

Ons wil graag soet woorde in ‘n suur wêreld in stoot.  Maar waar begin ons?

By die enigste Leermeester wat daar is.  God self….

Ons wil in die volgende paar dae die onderwerp van Liefde aanspreek.  Of eerder ‘Die Vrug van liefde’.

Vandag deel ons net met :

1Kor 13:4  Die liefde is lankmoedig en vriendelik;

  1. LANKMOEDIGHEID:Die Griekse woord makrothumia (en twee verwante woorde makrothumeō en makrothumōs) word gebruik om dieselfde betekenis as die Hebreeuse begrip van “lankmoedigheid” oor te dra: “om ‘n lang asem te hê”. Dit is ook die woord wat in Hebreërs 6 gebruik word vir “geduld.”

Ek hou nogal daarvan om te skryf uit eie ondervindings.  Ek het as kind landloop gedoen.  Was ‘n baie goeie langafstand atleet.  Geglo ek gaan eendag soos Zola Budd wees.  Toe begin ek rook.  Dit het nie lank geneem vir die slegte sondige gewoonte om my droom te vernietig nie.

Sien ons geestelike lewe is ook so.  Dit het baie lang jare se oefening gevat om fiks genoeg te kon wees om ‘n goeie atleet te kon wees.  Dit moes ook sekerlik van my ouers baie geduld geverg het met al die vereistes.  Elke dag gaan oefen.  Elke marathon waaraan ek deelgeneem het.  Net daardie een oortreding en jare se werk en drome lê aan skerwe.  Wat ‘n teleurstelling seker ook vir my ouers om te moes toekyk hoe ek talent weggooi.

Ons kom tot bekering, is ywerig en vurig en soms verwag ons dat ons geestelike volwassenheid in ‘n japtrap sal bereik.  En wanneer ons moet wag raak ons moedeloos en verloor soms die ywer.  Sonde kom kanselleer ook so vinnig die groei en moet ons dan eers weer terugkeer na die Kruis.

God wil hê ons moet lankmoedig wees.  Soms gebruik Hy net situasies om ons te leer om op Hom te wag.  Waarom?  My oortuiging is om lankmoedig teenoor die verlore wêreld te kan optree.  My ma het vir 26 jaar vir my gebid voor ek tot bekering gekom het.  As sy nie volhard het nie, was ek moontlik al dood in die hel. 

2 Pet 3:9  Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. 

Soos God lankmoedig is oor ons moet ook ons oor ander wees.  Lankmoedigheid sal jou op jou knieë hou vir verlore siele.

Lankmoedigheid beteken om te volhard. 

My ou skoolmaat wou so bitter graag saam my landloop doen maar sy het nie so uitgeblink nie.  Sy was nie so fiks nie en het sekerlik net nie die lang asem gehad nie.  Ek onthou een 10 km marathon waaraan ons deelgeneem het in die laerskool.  Sy was heel laaste en ek het so bitter jammer gevoel vir haar dat ek maar saam haar heel agter gehardloop het.  Ek het haar bly aanmoedig om net klaar te maak.  Sy het en ons het steeds elkeen ‘n medalje ontvang.  Lankmoedigeheid is om dit deur te sien tenspyte van stryd. 

Dis ook soveel meer.  Lankmoedigheid is ook om beproewinge te verdra sonder om moeg te word.  Om ook onder moeilike omstandighede of versoekinge selfbeheersing te kan uitoefen.  Ek onthou in baie gevalle wanneer ek gedraf het dat ek by tye so moeg was, selfs frustreerd en gewonder waarom doen ek dit nog?  En instede daarvan om moed optegee het ek klippies opgetel en in my mond gesit.  Verder gegaan.  Dit het my weerhou daarvan om moed op te gee.  My tweede asem het ingeskop en my gedagtes was gefokus op die wenpaal.  Gebed is daardie klippies in ons geestelike lewe.

Dan is daar ander mense…..

Ons kry daagliks te doene met mense wat se tonge buite beheer is.  Hulle sê, skree, vloek, breek en verwoes.  Ons wil moontlik kwaad word, uitvaar, uitbars ens. maar as Christene is dit nie vir ons om kwaad te raak of te reageer en uit te vaar teenoor hierdie persone wat ons seermaak nie,  Die Here sal dit hanteer.  Dis ons taak om vir hulle te bid en seën.  Ons moet hierdie sake vir God gee.

Heb 12:14  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; 

Ek sluit graag af met hierdie Bybel vers.  Maak dit julle eie, memoriseer hom.

1Kor 16:14  Laat alles by julle in liefde geskied.

Janine Visagie

04/04/2020

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.