Vertroue en hoop


Dit is nogal snaaks hoe ons ou mensdom dink.  Ons wil so bitter graag die Here vertrou, ons lewens en die beheer daarvan in sy kosbare hande los. Ons wil so graag hê Hy moet in beheer van ons geldsake, ons huwelike, ons kinders, werksituasies en sommer alles staan.

 

Maar die oomblik as dit vir ons lyk asof Hy nie gaan reageer soos ons dink Hy moet doen nie, dan klim ons weer pens en pootjies in en neem beheer oor, so asof ons dink ons kan enigiets beter as God doen!

 

Exodus 14:13-14: “Maar Moses het aan die volk gesê:  “Wees nie bevrees, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”

 

Binne jou situasie of omstandighede sien jy dalk die werkloosheid, die hoë munisipale rekening, die egskeiding wat voorlê, geen kos op die tafel nie, en jy is desperaat en weet nie hoe jy die situasies gaan hanteer nie  En wanneer jy sien dat God nie reageer soos jy verwag het Hy moet reageer nie, dan gryp jy weer alle beheer uit sy hande.

 

Maar weet jy wat?  God weet hoe om elke situasie te hanteer, Hy weet watter voordeel jy uit al die leerprosesse gaan verkry, so STOP, MOENIE BEWEEG NIE!, laat God toe om jou omstandighede en situasies vir jou te hanteer.

 

Hiermee wil ek ook net byvoeg dat jy nie net agteroor moet sit en God’s water oor God’s akker laat loop nie, nee, jy het ook ‘n verantwoordelikheid, bv. As jy werkloos is, spring uit, soek God se aangesig en gaan soek ook werk.  Jy mag dalk baie verbaas wees om te sien dat die regte ding wat God vir jou ingedagte het, dalk reg onder jou neus is!

 

Jy voel dalk ingeperk en vasgevang omdat jy nie self gaan optree nie, maar wag asseblief net ‘n klein rukkie langer, God sal sy planne vir jou tot uitvoer bring. Die psalmis skryf:  “Maar U, Here, is my skild wat my beskut, my eer, en die Een wat my hoof ophef.” (Psalm 3:4)  Staan vas, matertjie, en loof God want Hy is alreeds besig om die stryd vir jou te stry.

 

God eer jou wanneer jy in Hom alleen jou vertroue plaas.

Cielie Smith

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.