Veertig Jaar van seën


Op 6 Oktober 1973 word ‘n gemeente gestig deur die wonderlike genade van ons almagtige God en Vader.

Maranatagemeente!

Vanuit Rietfonteingemeente ontstaan hierdie gemeente met ‘n lidmaattal van 145.  Biddende word die dienste in Pretoria-Noord se stadsaal gehou, wagtend op ‘n eie kerkgebou.

Deur die Here se genade realiseer dit en op 20 Augustus 1977 word ons eie kerk gebou ingewy deur ds.J.A.J. Olwagen.  Verheug oor hul tuiste sit hulle die werk van die Here voort in gehoorsaamheid aan hul hemelse Vader met ds.Attie as hul herder.

Ek self beleef die seën van die Here in hierdie gemeente vanaf 1986 tot 1995, waarna ek so bietjie verdwaal het.  In gehoorsaamheid aan God het ek teruggekeer na Maranata.  Ek is tuis!  In my afwesige jare het ek vinnig geleer dat jy net kan bou waar daar ‘n fondasie gelê is.  Maranata is nie net ‘n kerk nie.  Dis ‘n familie!  Hier sal jy altyd die verkondiging van die Evangelie suiwer volgens die Woord van God ervaar.

Ek sal alles graag wil weergee, maar niemand sal dit beter kan doen as die mense van hierdie besonderse gemeente nie:

Maranata is die gemeente waar ons in 1989 tuis gekom het.  Hier ontvang ons baie liefde en omgee soos ‘n geestelike familie. Ons is hier om in diensbaarheid te staan en mekaar in gebed te dra.   Leon en Maritha Smith

Ek en Alda is nou al vier jaar in die gemeente.  Ons voel tuis omdat dit is waar God ons wil hê en waar die mense is wat ons ken en liefhet.  Ek glo God het nog ‘n doel met my in Maranata.  Ek is by verskeie dinge betrokke, meesal tegnies van aard.    Eben en Alda Bekker

Was lank in daardie gemeente te Middelburg. Daarna na Pretoria-Noord Maranata onder  di. Olwagen en Schoeman as ouderling.  Baie het in hierdie gemeente as gevolg van aanhoudende probleme seergekry. Nogtans het die kerk staande gebly deur ons HEMELSE VADER se volharding.  Al die eer kom HOM toe. My liefde vir ons kerk hou my daar al is ek as gevolg van siekte nie meer aktief nie.     Johan Henrico

Halleluja!  Maranata, Jesus kom!  Met dankbaarheid in my hart wend die Heilige Gees my voetstappe terug na Maranatagemeente na ‘n afwesigheid van 20 jaar, met die uitdruklike opdrag om te gaan bid. 1 Timoteus 2:1-8 “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense.”  Halstarrige ekke, wil eers so bietjie redekawel oor  waarom ek moet gaan bid – hulle het mos bidders daar!  Abba Vader gee toe vir my Kolossense 4:1  “Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging.” Asof dit nie genoeg is nie gee Hy ook die daaropvolgende verse.  Groot was my verbasing oor hoe die lidmaattal van Maranata verminder het sedert die tydperk tussen 1984 en 1996 wat ek aktief daar betrokke was in die dienswerk van Jesus Christus.  En weet ek dat ek teruggeroep is met een doel – om te bid!  My geloofsfondasie was daar gelê, en ek het vir 20 jaar probeer om my geestelike huis op ‘n ander plek (sonder fondasie) te gaan bou!  Laastens met volle oortuiging dat ek in God se wil is, bevestig Hy dit aan my uit Jesaja 51:1-3 “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag … Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die Here, vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.”  En weet ek dit sal met volharde gebed waar word, nie net met my gebed nie, maar deur  die gesamentlike gebede van almal wie se harte nog reg klop vir Jesus.  Met so ‘n belofte van God aan Maranata. kon ek net nie anders as om gehoor te gee en terug te keer na Maranata, waar ek my eerste  liefde, Christus Jesus as Verlosser en Redder ontmoet het nie!      Cielie Smith

 

Maranata sal altyd vir my spesiaal bly, want dit is hier waar die Here my siel gered het. Hier voel ek deel van die liggaam van Christus en hier wil ek bruikbaar vir die Here wees uit dankbaarheid vir dit wat Hy vir my aan die Kruis gedoen het.   Thereza van der Merwe

 

Kom ons hoor wat sê ‘n paar van die voormalige predikante oor hulle dienstyd te Maranata.  In volgorde volgens hulle dienstydperke:

Ds. Attie Olwagen:

Ds. Attie Olwagen het ons reeds vooruitgegaan huis toe.  Ter nagedagtenis aan hom, die volgende:

Ds. Olwagen was vir die E.G. Kerk ‘n vaderfiguur- vir 18 jaar ‘n onvervangbare moderator.  Sy invloed en gesag het vir al die jare merkbaar dwarsdeur die Kerk én deur ons land soos ‘n lieflike geur versprei.  Almal het geweet van hom en almal was geneë daarmee om in die geur van sy ‘vadergesag’ te verkeer, sonder om teen hom te draai of om iets verkeerds van hom te sê.  Verder was hy by uitstek ‘n baie sterk gebore leier.  Op sinodes en in ander vergaderings het jy geweet daar is ‘n ware leier daar voor in die stoel; jy kon na hom luister en jy kon hom verseker met vrymoedigheid volg op die geestelike weg!  Só was ek self bevoorreg om hom vir ‘n tyd as mede-leraar te kon hê; ‘n tyd van lering en afronding en toerusting vir myself.

Wat sy uitmuntende bekwaamheid in prediking betref, was daar net nie sy gelyke nie! Die dodelike erns en ongeëwenaarde Skrifkennis het jou van begin tot op die einde op jou sitplek vasgetrek. Hy is seker nou daar in die hemel deeglik bewus van die siele-oes wat as gevolg van sy lewe en prediking ook nou daar is.  Maar dit het nie daar opgehou toe hy afgetree het nie; nee die Evangelie loop nog sterk, gedrewe deur ons wat agterbly en die tegnologie ingespan om sy boodskappe lewend te hou!    Ds. Peet Schoeman

“Ds. Attie Olwa

As mens.  Die mens mag nie aanbid word nie, maar wat ‘n voorreg om ‘n klein venstertjie oop te maak en ‘n sig te hê op een van die kragtigste predikers in die geskiedenis van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Hy was baie lief vir die Here gewees. Ja, hy was ook mens in die volle sin van die woord. Lief om hoenders te kruis en te teel soos hy dit wou gehad het.

Sy waarneembare geaardheid. Reguit, streng maar geheiligde persoonlikheid. Alhoewel mense gou aanklank by hom gevind het, het hy hulle nie aan hom laat verkleef nie, maar aan Christus. Geen kompromie met onbybelse leringe en standaarde is gemaak nie.

Sy passie. Ds. Attie was deur en deur ‘n sielewenner gewees. Nie net siele na Jesus toe gelei nie, maar hulle ook tot geestelike volwassenheid gelei. Die wederkomsboodskap was ‘n uitstaande passie in sy bediening gewees, en baie van ons wat onder sy bediening gevorm is, is vandag self ook wederkoms predikers. Sy passie is op ons “afgevryf”.

Sy voorbereiding.  Hy het nie internet en ‘n rekenaar gehad nie, maar wanneer hy homself in die studeerkamer toegesluit het, was hy totaal en al afhanklik van die Heilige Gees. Dit het ook op die kansel en in sy bediening weerspieël.

Ds. T. Putter

 

Ds. Hennie Prinsloo:

Dit was vir my en my gade ń wonderlike voorreg om van 1981 tot 1986 in Maranata gemeente in die bediening te kon staan. Ek is beroep om as medeleraar saam met ds. Attie Olwagen te kom arbei in Pretoria-Noord  en omgewing.  Ons dink terug aan daardie tyd as uitstaande en ‘n hoogtepunt in ons bediening!  Ons het so baie geleer by ds. Olwagen wat ‘n besondere, dinamiese en kragtige prediker was. Dit was aangename en verrykende tye om aan die voete van so ń leermeester te kon sit as ń jong leraar.

In my persoonlike geestelike ontwikkeling en vorming was daardie jare in Maranata ń uiters geseënde tydperk. Dit was die beste toerusting wat ek deur die jare kon ontvang vir my  toekomstige bediening.

Ons het belewe hoe talle honger en dorstige siele na die dienste toe stroom om daar gered te word. Die gemeente het dinamies gegroei en ń al groter impak in die omgewing en die stad gemaak.  Byna elke Sondag het siele gered geword en jong christene het geestelik gegroei.  Verskeie jongmanne en vroue uit die gemeente is geroep tot voltydse diens en het predikante in die kerk geword.

Die Wederkoms reekse wat ds Olwagen oor Sondagaande aangebied het was ń belewenis.  ń Uur voor die dienste begin het, het die kerk al vol gesit omdat mense seker wou maak dat hulle ń sitplek kry.

Dit was my voorreg om met die EE3 kursus in Maranata gemeente te begin en so is tientalle lidmate opgelei om vrugbare sielewenners en dissipelmakers te word.  Verskeie EE3 klinieke is ook in Maranata gemeente aangebied en leraars van verskillende kerke van oor die hele land het gekom om as dosente toegerus te word om op hulle beurt weer in hul eie gemeentes die kursus te gaan aanbied.

ń Tweede Pastorie is ook in die tyd in Annlin gebou. Talle lidmate en ek as leraar het moue opgerol en hard gewerk om ń pragtige woning te voltooi.

Daar was pragtige sangtalent in die gemeente en ń groot koor is op die been gebring wat deur vroulief afgerig is.  Die mooiste sangitems en koorstukke is deur hulle tydens die dienste gelewer.

ń Entoesiastiese toneelgroep het ook uit die gemeente ontstaan en vroulief was die reggiseur.  Verskeie toneelstukke is in Pretoria Kleinteater opgevoer.  Die destyds bekende sanggroep “Jubilatums” het as gaskuntenaars opgetree.  Talle verlore siele het tydens die opvoerings na Jesus gekom vir redding en verlossing.

Die gemeente het mettertyd ń stadium bereik dat ń 3de leraarspaar beroep is, ds. en mev Johnny Mienie.  Ons 3 leraars het in aangename harmonie saamgewerk.  Ons het heerlike seëninge van God in die gemeente beleef.  Die gemeente het gegroei tot die grootste in die kerk.  Die aantal kerkraadslede was om en by 35 manne.

Ek en my vrou Annelie wil die huidige leraarspaar, kerkraad en gemeente gelukwens met die herdenking en feesviering. Ons bid u toe God’s ryke seën op u pad vorentoe.

Maranata!
Ds Hennie en Annelie Prinsloo

 

Ds. Johnny Mienie

“My beroep na Maranata Gemeente

 Deut 23:25  As jy in die ongesnyde graan van jou naaste kom, mag jy met jou hand are afpluk; maar ‘n sekel mag jy nie swaai in die ongesnyde graan van jou naaste nie.

Met hierdie Skrif het die Heilige Gees ons gelei om die beroep na Maranata Gemeente aan te neem.  Ons was vir  vyf jaar rondom 1985 daar werksaam as mede-leraar saam met di. J.A.J. Olwagen en Hennie Prinsloo.

Dit was harde werk met intense vrug!  Ds. Olwagen was vir een en ‘n half jaar op ‘n aftree fase.  Van tyd tot tyd het hy vanaf Rooiwal ingery vir eredienste, die kerk en saal was vol.  Vir my was dit net so ‘n voorreg om die bediening met ds. Prinsloo te deel.  Weereens was die prediking met liefde en inspirasie.  Al meer het ds. Prinsloo net soos ds Olwagen oor die wederkoms gepraat.  Ek dink my tema’s het hoofsaaklik oor selfverloëning en kruisopname gegaan.

Mat 16:24-25 Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.

 Joh 12:24-26  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.

Ds. Hennie se preek oor die liefde van Jesus uit Joh 11 sal my en my vroutjie Anet altyd bybly.  Dit was seker oor vers 35.

Joh 11:35  Jesus het geween.

In hierdie jare was dit my voorreg om saam met ds. Olwagen op die Moderatuur te dien, ook saam met ds. Prinsloo.

Ons ry later verby die kerk in Suiderstraat waarop ds. Hennie opmerk: “Ou Johnny,  hier het ons darem lekker gepreek!”

Prys die Here!

Ds. Johnny Mienie

Emeritusleraar

Ds J. Loots:

“Ons dink terug aan vroeg die oggend aan die begin van 1987 wat ons by die pastorie in Annlin ingewag en verwelkom is. Van die lidmate het ons twee kinders in hul sorg geneem vir die dag en talle ander het gehelp om uit te pak en deur die loop van die dag het talle ons kom verwelkom.  Dit was duidelik ‘n gemeente met goed geoliede ratwerk. Daar was ‘n groot span EEIII werkers en veral ‘n sterk jeug bediening.  Die gemeente het uit sy nate gebars en na vele mislukte pogings om die kerkgeboue te verkoop het Maranata se kerkraad in die helfte van daardie jaar besluit om die Wonderboom gemeente af te stig. Hulle het ses en veertig lidmate afgegee vir die afstigting, maar soos ‘n boom wat gesnoei is, het dit groei gestimuleer om binne die volgende jaar weer terug te wees op die getal voor die afstigting.

Die groep lidmate wat Wonderboom moes begin was besonder toegerus in Maranata. Daar was reeds in hul eerste semester vyftien EEIII werkers waarvan vyf as dosente van EEIII gekwalifiseer was. Deur genade en seën van die Here het Wonderboom ook vir hul begin jare, elke jaar verdubbel in lidmate. Dit was duidelik getuienis van die dinamiese toerusting wat in Maranata ontvang is. Ons bediening in Maranata was van korte duur, skaars ses maande, aangesien ons toe beroep is na Wonderboom. Dit was ‘n groot voorreg om deel te wees van die dinamiese deel van God se plan. Ons wens die gemeente die volheid van God se seën toe vir die toekoms.

Ds Pieter en Hester Loots

Ds. Peet Schoeman:

Ons Bediening in Maranata

Ons bediening in hierdie gemeente het in 1987 begin toe ons beroep is uit Hankey gemeente.  Ons is in 1996 weer beroep na Fochville- ‘n bediening van 9 jaar in Maranata.  Ons het baie wonderlike dinge ervaar in Pretoria.  Die gemeente het vinnig gegroei en so het ons bediening ook uitgekristaliseer as ‘n bediening in berading en geestelike oorlogvoering.  Die berading het só gegroei, dat ons tot 6 gevalle per dag moes hanteer.

Die Heilige Gees het kragtig gewerk en honderde (miskien eerder duisende) persone gered en verlos en genees. In my tyd het ek beraders en lekepredikers opgelei, ook ‘n hele aantal in Geestelike Oorlogvoering.  Ons het ‘n baie aktiewe en funksionele dissipelskapsprogram geïmplementeer en baie sielewenners is opgelei.  Daar het skielik in die omgewing van 1991 groot oplewing plaasgevind.  Ons Kerk het te klein begin raak en moes ons nog ‘n tweede saal aanbou om almal in dienstye te akkomodeer. Oggende en saans was die kerk stampvol.  Die aanddienste word later bygewoon deur tot 600 mense  per aand.  Tussen 30 en 50 persone het saans tot bekering gekom.  Dit was só erg dat die Huisgenoot in  ‘n artikel skryf dat daar basies herlewing in die gemeente gekom het.  Ons kon nie alles behartig nie en het toe op my aandrang vir ds. Olwagen terug beroep om te kom help met diens prediking.

Maar die vyand was in aanval en vanuit die gemeente het daar groot aanvegtinge gekom en die werk het getaan.  Te midde van ‘n ommeswaai, waar dinge later weer beter begin gaan het, is ons toe beroep na Fochville.

Alle eer aan Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof! “

 

Ds. Johan Boshoff:

“Op 15 April 1989 is ek georden as Predikant van die Evangelies Gereformeerde kerk te Maranata Gemeente nadat ek my studies voltooi en ‘n jaar in Bethal my praktiese tyd voltooi het.  Die Predikant Peet Schoeman was Herder van Maranata Gemeente op daardie stadium.  Buiten die jeug het ek veral huisbesoeke en hospitaalbesoeke gedoen asook prediking Sondae. In 1990 begin behoefte na Werkkring in Akasia en word ons uit Maranata gestuur om die Werkrking te begin en is bevestig as Leraar van Akasia Werkkring tot Augustus 1991 waar ek dan Beroep na Rustenburg aanvaar het.

As Jeug leraar was dit ons voorreg om jeugaande te hanteer en het ons gereeld uitstappies en staptoere gereël en ook met die jongmense die Woord gedeel veral dan op Vrydagaande.  Ons het ook sekere Vrydagaande deurnag gebedstyd gehad en met tye het dan so na 11 in die nag uit beweeg vir straat werk veral in Sunnyside en omgewing.

Ons het ons Sendingroeping opnuut ontvang tydens Ds Jan Coetzer se besoeke vanuit Madagaskar en het ons gewag op die Here om voltyds uit te gaan in Sending veld wat dan ook op 27 November 1994 vanuit Rustenburg Gemeente plaasgevind het.  Tans is ons in Danabaai woonagtig waar ons veral op plase in werkstyd gegun deur die Boere Woord bedien aan hulle werkers en bedien ons by 13 plase.  Ons bedien ook by Besighede net voor oopmaak tyd in die oggend Woord, dis is nogal ‘n voorreg hier in die Suidkaap wat ons aangryp.  So doen ons besoeke in hospitale en tuis en veral Dissipelskap besoeke.  Ek self is ook Geestelike Werker by die Gevangenis in Mosselbaai wat ‘n Jeuggevangenis is met jongmanne tussen 16 en 24 jaar.

Woord van bemoediging vir die Gemeente:  Staan vas, staan sterk, die koms van Jesus is voor die deur.  Mag die Here gee dat ons as Sy kinders nie sal slap lê, maar in volharding die goeie nuus sal uit dra sodat Sy koninkryk op aarde kan uitbrei.  Gal. 2:20 Ek is met Christus gekruisig………… en 2 Tim 2:15 ………..’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

Ds W. du Plessis:

“Ons is November 1996 in die gemeente ontvang.  Dit was ‘n wonderlike geleentheid.  Die Here het siele gered en van hulle is by die gemeente gevoeg.  By geleentheid is daar 35 lede vanuit ander kerke bygevoeg.

Daar was in Mei 1998 ‘n groot Evangelise veldtog geloots.  ‘n Groot groep van die kweekskool studente het vir twee weke met die dienste gehelp.

Gedurende my bediening in die gemeente is daar 100 lede by die gemeente bygevoeg.

Ek het Mei 1999 emeritaat ontvang.

My gebed is dat die Here die gemeente sal seën.

Emeritus leraar.

Ds. Willie du Plessis”

Ds. Theuns Putter:

“Boodskap: MARANATA-GEMEENTE.

  1. Maranata-gemeente as tuiste.

Een van die goddelikste ervaringe wat ek en my vrou baie oor praat. Daar het Jesus Christus ons siele uit genade gered en was daar onmiddelik iemand by wat ons geestelik versorg het. Ek verlang na Maranata-Gemeente – soos dit was!

  1. Die goddelike ervaring.

Talle Sondae, nog voordat die diens begin het, het mense saggies gesnik a.g.v. die bewuswording van die Heilige Gees se teenwoordigheid. Wanneer siele na ‘n diens uitkom vir geestelike hulp, het talle gebedsgroepe buite die kerk gevorm om hulle “in te bid”.

  1. Die werking van die heilige gees.

Dit was ‘n tyd toe die sataniste alles probeer doen het om christene te mislei en dienste te probeer verongeluk. Een Sondag, terwyl ek as ouderling aan diens was by die pastorie-deur, het ek ‘n dame opgemerk wat in die eerste ry stoele van die saal kom sit het. In gietswart geklee en spierwit hare. Daar was hemelse samesang en net voordat ds. Attie ingestap het, het sy opgespring en soos ‘n wilde dier uit die kerk gehardloop, en ek het haar nooit weer opgemerk nie.

Boodskap: 

  • 22:30“En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie;”

  • God soek ‘n man, nie ‘n ds. Attie nie, maar iemand wat sal wees soos die apostel Paulus vir Timoteus in 2 Tim. 3:10-11 leer,“Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid,vervolginge, lyding,”

  • God soek ook gemeentelede soos Paulus vir die gemeente te Korinthe leer in1 Kor. 11:1“Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.”

  • In 2 Kron. 7:14 lees ons,“en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

  • Lig kan eers skyn as die pit skoongemaak is en daarna skoon olie ingegooi word. Hierdie handeling vra ‘n totale oorgawe aan God en ‘n aflegging van die “ou mens”.

Baie seën en sterkte vir u as gemeente.

Ds. Theuns en Elize Putter (Lidmate vanaf 1980 -1993en in bediening vanaf 1999 – 2005)”

Ds. Jan Bekker:

“In ons vierde jaar by Vereeniging gemeente, kom die beroep.  Ons het die roepstem van die Here na Maranata gehoor en trek in April 2005 daar in.  Ek en Lecia was terug in die gemeente waar ons in 1988 lidmate was! Destyds het ek as jongman ‘n pos as plaasbestuurder in die Noord Transvaal aanvaar, en min geweet dat God ons eendag, na 17 jaar, sal terugbring na Maranata! En nog minder dat ons dan die herderspaar van die gemeente sal wees! Ons gesin het bestaan uit ons oudste seun, Eben op Universiteit, André –op hoërskool in Potchefstroom, en Dewald en Tanya nog in die huis.Ons het met ywer ingeval om dit wat God aan ons toevertrou het, met liefde te versorg en te bewerk. Daar was lief en leed, en goeie tye saam met die Here en sy kinders. Ons het lief geword vir die mense, baie gebid, en alles ingewerp om God se saak te bevorder. In ons tyd is die ou woonhuis afgebreek waar die “Visnet” in gelë was. Die Visnet was die jeug se bymekaarkomplekkie. Die groot jeug- en sondagskool is toe in sy plek gebou. Ons verlaat die gemeente in Oktober 2012 toe die Here lei om die beroep na Phalaborwa aan te neem. Dit was 7 en ½ jaar van God se genade in Maranata!

‘n Hoogtepunt tydens my tyd in Maranata.

Ek was nie baie lank by Maranata nie, toe begin my rug my opkeil. Dit word net al erger en erger. Ek laat vir my hande oplê en bid, maar niks gebeur nie. Dit word al erger vir ongeveer twee jaar. Weer en weer laat ek vir my bid. God het gesê en genooi in Jak.5! Maar niks gebeur nie. Ek begin wonder of ek dalk vir ‘n rugoperasie moet gaan? Ek het altyd my stiltetyd in my karavaan in die motorhuis gehou. Eendag is ek in my karavaan, waar ek met ‘n uiters pynlike rug ingegaan het. Ek gaan kniel oudergewoonte voor my bed en roep God aan vir genade en genesing! Die wonderwerk gebeur! Die HERE raak my net daar aan en genees my rug op die plek volkome!! Ek klim uit daardie karavaan met ‘n gesonde, sterk rug tot vandag toe, ongeveer 10 jaar later! God is nog steeds die geneesheer van die krankes! Prys sy Naam!

Ds Jan Bekker

Potgietersrus”

Ds. Rikardt Hatting:

“Maranata – Jesus Kom

Ons is die Here innig dankbaar vir al die jare wat Hy die EG Kerk kon gebruik en dat Hy ons kon toevertrou met sy boodskap, die boodskap van Wedergeboorte, die boodskap van Heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees, die boodskap van die persoonlike Wederkoms van onse Here Jesus, die boodskap van Goddelike genesing.

So lank ons waarlik die Here soek en sy woord preek sal die kandelaar van Maranata en van die EG Kerk nog brand, maar dat ons nooit verwaant sal word en dink ons kerk is God se gawe nie want daar is baie mooi ware kinders van die Here in ander kerke ook. Maar ek is lief vir die EG Kerk, dis waar die Here my siel gered het en dis waar Hy my geroep het.

Ek Ds. Rickard Hattingh was bevoorreg om vir drie en ‘n halwe jaar die gemeente Maranata te kon bedien met die Woord. Wat vir my wonderlik was van die gemeente was sommige van die ou garde was in diep verhouding met die Here en as hulle gebid het kon jy hoor daar is ‘n verhouding met die Here en ek kon hulle ook vra om te preek as ek moes weg gaan. Deur die genade van die Here het ons kerk heilige mense gekweek, deur die prediking van Ds. Attie Olwagen, Ds. Hennie Prinsloo, Ds. Johnnie Mienie, Ds. Theuns Putter en Ds. Jan Bekker. Groot manne wie se skoene ek as jong predikant moes gaan vol staan. Ek was die eerste en enigste wat nog in Maranata georden was as Predikant, nog nuut in die bediening.

Dis ‘n gemeente wat die Here kon gebruik om baie siele in te bring. Dit gaan nie oor sy geboue en rykdom en getalle nie, maar daar het baie siele oor die jare tot bekering gekom

1Kor 9:16  Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!

En daarvoor sê ons vir die Here dankie, Hy kry al die eer.

Dis ‘n gemeente wat ook baie aanslae gekry het deur die siele vyand, maar die Woord sê 1 Joh 4:4 “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”

Verder is dit ‘n gemeente wat baie vrug gelewer het as jy kyk hoeveel geroepenis oor die jare is uit Maranata kweekskool toe om vir die Here voltyds te gaan werk. In my tyd is Francois du Toit en Dewald Bekker kweekskool toe waarvoor ons die Here dankbaar is.

As daar ‘n teks vers op my hart is vir die gemeente is dit Jer 6:16 “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.”

Vrede bid ons vir Ds. Wimpie Snyders toe en die gemeente dat die Here die gemeente mag spaar vir nog 40 jaar en langer as die Here vertoef om te kom.

Tit 3:15 “Almal wat saam met my is, groet jou. Groet die wat vir ons liefhet in die geloof. Die genade sy met julle almal!  Amen.”

Groete Ds. Rickard Hattingh”

Ons huidige Herder Ds. Wimpie Snyders sal hierdie artikel opvolg met ‘n artikel van sy eie na afloop van die dankdiens.  Graag wil ons aanmoedig om daarvoor uittekyk.

Hierdie 40 jare oue gebou beteken egter niks sonder die mense wat hier God aanbid nie.  Geesvervulde kinders van God bedien vanuit hierdie gebou geskenk deur ons Vaderhand.

Deur groeiende- en strydtye oor die jare heen het God ons gemeente getrou bewaar.  Ons sal die wedloop voleindig.

-Janine Visagie-

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.