“Spring Cleaning” – Skep vir my ‘n rein hart


‘Spring Cleaning’

Hoe heerlik vanoggend toe ek my oë oopmaak en besef dis lentedag. Kinders gaan weer in die water kan baljaar. Braaivleisgeure in die lug. Die voëlsang wat ons weer wek smorrens vroeg. Hulle roep die dagbreek en saam sing my hart ‘n lofsang aan my Vader.

Tyd om ons huise te ‘spring clean’. Tyd om die winterstof af te was. Meeste mense hierdie tyd van die jaar doen dit. Die gordyne word gewas, kaste uitgeskrop. Die huise blink weer.

Dis dan ook die ideale geleentheid om ons harte skoon te skrop.

Kom ons ‘spring clean’ ons harte vir Jesus.  Maar ook vir onsself.

Efe 4:31  Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.

Kol 3:8  Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

1Pe 2:1  Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;

 

Waarom is dit so belangrik vir God dat ons ons harte moet skoonmaak/reinig?

1Thes 4:3  Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;

Dis so hartseer wanneer kinders van die Here in ongehoorsaamheid aan die wil van God leef.  Hulle besef of dink soms nie eers aan die skade wat hulle aan die koninkryk van Jesus doen nie. Hoeveel keer hoor ons ongeredde mense sê ná ‘n kyk in hierdie christene se lewens: “ As dit is hoe ‘n christen is, wil ek liewers nie een wees nie.”

Ons is in baie gevalle die enigste Bybels wat die goddelose lees.  Hoe lees hulle ons dan?

Heb 12:14  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

2 Kor 7:1  Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring

 

Wanneer ons ongehoorsaam is aan God, kan ons verwag dat God dit nie net daar sal laat nie. Ons tugtiging is ook nodig om karakter te bou vir die doel waarvoor God ons geskape het. Maar meer nog, wanneer ons gedurig ons van heiligmaking onthou en aangaan met ons opsetlike sonde, moet ons onsself vra of ons bou aan Jesus se koninkryk? Is ons nie dalk besig met ons eie en met die duiwel se koninkryk nie?

Rom 6:12  Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. (13)  En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.

 

Dis voordelig vir elke kind van God om heilig te leef.  Ongeag van die enigste rede wat ons nodig het, is daar soveel meer goeie redes.

God sê: ‘ Wees heilig, want Ek is heilig!”

Daar is egter ander redes ook. Vir die volgende paar weke gaan ek in detail nadele van spesifieke sondes en voordele van die vrug van die Gees behandel in ‘n reeks artikels: ‘Skep vir my ‘n rein hart’.

Kom ons begin hierdie lentedag met ‘n ‘spring cleaning spree.’

Dit sal ons:

  • ‘n Effektiewe, aktiewe getuie maak vir Jesus
  • ‘n Effektiewe dissipel maak vir Jesus / Sielewenner
  • Jy sal ‘n goddelike liefde vir selfs jou vyande hê
  • Jy sal ‘n intiemer verhouding met Jesus hê
  • Jy sal liggaamlike vernuwing ontvang

 

Kom ons begin op hierdie lentedag om ons beskikbaar te stel vir die Heilige Gees om van ons Geesvervulde dinamiese kinders van God te maak.

 

Janine Visagie

 

 

 

 

 

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.