Skep vir my ‘n rein hart – Egbreek


EGBREUK en HOERERY

Mark 7:21  Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, (22)  diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid.(23) Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.

 

Slegte gedagtes was moontlik die eerste en maklikste slagveld, maar dis onsigbaar aan jou geliefdes en daarom maak dit hulle nie seer nie. In die geval van egbreuk is dit iets heel anders. In die howe van Suid Afrika is egbreuk en egskeidings irrelevant.  Al hoe meer begin die gereg sondes goedkeur of net ignoreer.

Wat God betref, is dit sonde. Hy beskou dit so ernstig dat God ons nie net vermaan om dit teen te staan nie maar Hy waarsku ons dat ons daarvan moet VLUG!

 

Waar begin hierdie skelm verhoudings?

Daar is verskeie redes wat aangevoer word waarom sulke verhoudings begin het.  Dit gebeur egter bitter selde oornag. ‘n Leemte bou op oor ‘n tydperk of in die huwelik of in ons eie identiteit.

Soms is ons selfs onbewus daarvan totdat ‘n derde persoon ons begin komplimenteer (iets wat jou gade nie meer doen nie)…. so loop ons aan na ‘n “onskuldige koffie”…. intiemer komplimente….en boem… ‘n volwaardige affair!”

Die grootste verskoning is dat my man/vrou my nie meer waardeer nie.

Dan is daar ook mense wat met gevoelens van verwerping stoei wat baie vinnig spesiaal voel wanneer daar aandag na hulle kant toe kom.

En dan kry ons arrogansie. Mans en selfs vrouens wat ‘n soort magsgevoel beleef wanneer hulle suksesvol ‘n buite-egtelike verhouding kan aanknoop. Hulle is jagters en het geen skaamte of gewetenswroeging vir die dade nie. Hulle spoeg ook vinnig weer die slagoffer uit en beweeg aan na die volgende. Grootste slagveld hier is sosiale media(facebook, twitter, chatrooms ens.), werksplekke en nagklubs.

 

Wat ookal die verskonings wat hiervoor aangevoer mag word, kan dit alles vermy word deur gehoorsaam te wees aan God en van dit te vlug. Die Woord van God beskryf dit as ‘n boosheid. Die sielevyand begin deur ons aan te val met gevoelens en gedagtes van verwerping. As ons daar reeds in God bly, vas staan, die aanvalle verwerp, sal satan van ons af wegvlug.

1Kor 6:18  Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.

Egbreuk en hoerery kan saam geklassifiseer word. Satan het ‘n artillerie van wapens teen die mens. En hierdie twee is die atoombomme! Die mensdom word baie maklik verslaan hiermee en die uitkoms daarvan is altyd verwoestend.

  • Self identiteit
  • Huwelik
  • Kinders
  • Finansies
  • Geestelike lewe
  • Gesondheid
  • Integriteit
  • Morele standaarde

Hierdie is maar ‘n paar aspekte wat geraak word deur hierdie twee booshede en die verwoestende uiteinde daarvan.

 

Jak 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

 

Janine Visagie

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.