Skep vir my ‘n rein hart – Afguns en Hoogmoed


AFGUNS, HOOGMOED

 

Mark 7:21  Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, (22)  diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. 

(23) Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein. 

 

Gierigheid, afguns, jaloesie,hoogmoed en lastering loop hand aan hand.  Hierdie is soos skakels,  onlosmaakbaar van mekaar.

 

Gierigheid lei na jaloesie…

Kor 13:4  Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,

 

Jaloesie lei na hoogmoed…

1Ti 6:4  dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog,

 

Dan volg afguns

Nou wil ek sommer lekker gemaklik gesels.  Ek vind dit nogal moeilik om oor afguns te skryf.  Ek ken nie die emosie nie.  Ek is totaal en al onkundig oor hoekom en waarom dit gebeur dat mense afgunstig of hoogmoedig of jaloers is.  Ek moet gaan op boek kennis en die leiding van die Gees.

 

So vra ek Onse Heer:  “Nou wat skryf ek hieroor?”

So vat die Here my terug na my kinderdae en wys my ‘bullies’.. die haat van jong kinders teenoor hulle en dan ook die begeerte om so populêr te kan wees.  Die Here wys my armoede en mishandeling en kinders wat met ‘n begeerlike hartjie smag na ‘n kersgeskenk soos sy maats kry.  ‘n Titseltjie standvastigheid en onvoorwaardelike liefde.  Ons Heer wys my die vuilbesmeerde voetjies van ‘n skoolkind sonder skoene in die winter en ouers wat die geld wegdrink en die groei van ‘n emosie van jaloesie en afguns in daardie kindjie se hart.  So wys my Heer my verharde harte wat  hulle koppe wegdraai van ‘n bedelende honger hawelose kind.  Hy wys my die oorloë en hongersnood.  En sonder om self die emosie te ervaar kan ek nou sien dat dit ‘n emosie gekweek is van kleins af.

 

Ons Heer gaan verder en wys my ouma en oupa se tyd toe Sondae heilig was en saans die gesins Bybel gelees word aan tafel.  Hy wys my die tyd toe hulp aan jou naaste ‘n Godgegewe voorreg was en nie ‘n las nie.  Hy wys my Sondagskool klasse stampvol en leë strate op Sondae.  Kinders het boom geklim en tok tokkie gespeel.  Seuns was met hulle fietse en albasters besig.  Dogters het pop gespeel tot hulle 16 was.

 

Met hartseer sien ek vandag propvol kroeë en oop bottelstore, leë kerke en kinders wat nie eers weet wie Jesus is nie.  Ek sien winkelsentrums wemel van gierigheid en hebsug terwyl ‘n klein handjie vol mensie op hul knieë by God pleit vir Herlewing.

In plaas van boomhuise is dit selfone en Wii’s en Playstations.  Dis horror films en grimering en mini rompies by dogters voor hulle hoërskool haal.

 

En ons Here wys my dat Hy nie meer aan die binnekant van ons huise, skole, en selfs kerke welkom is nie.  Daarom is afguns, hoogmoed, jaloesie, lastering en al die booshede wat daaruit spruit die norm vandag en nie die uitsondering nie.

Jak 3:16  want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

Ons het nodig om terugtekeer na God en Sy waardesisteem.  Wanneer ons ons vereenselwig met Jesus, die Waarheid, die enigste Weg en ons Verlosser, eers dan kan ons volkome vrymaking van hierdie booshede ervaar.

Janine Visagie

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.