Skatte


SKATTE

Hoe heerlik vir my om vanoggend so bietjie stil te kon staan by Jesus se woorde in Matt 6:21 …want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Mense gebruik hierdie woorde as ‘n spreekwoord sonder dat baie van hulle weet dat dit uit die Woord van God kom.  Hulle staan ook nooit stil en bedink dit nie. Baie van ons maak vir ons skatte op aarde bymekaar (nuwe meubels, duur karre, pragtige huise) goed wat nie in ons graf pas nie en beslis nie saam op die wolke weggevoer gaan word nie. Tog roem mense daarin. Een skat wat ons op aarde het, wat ons moontlik kan saamneem, is ons kinders. Leer ons hulle genoeg van Jesus of maak ons hulle vir die verderf groot? Hoe sien ons kinders ons? Sien hulle ons met ‘n Bybel of met ‘n koerant? Sien hulle ons bid of TV kyk? Hoe hoor ons kinders ons?  Vermaan in liefde of skree?

Spr 29:15  Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.

Terug na ons skatte….  Jy bring verbeteringe aan tuis. Ons pas dit op omdat ons nie weet wanneer ons dit weer sal kan vervang nie en dit verkry is deur harde arbeid. Nuwe kar, oue word verkoop, nuwe sitkamerstel…  nuwe kaste en en en…

So moet ons elke dag skatte bymekaar maak vir die hemel. Ons doen dit deur ons gawes te beoefen. Deur vir Jesus te lewe. Deur ontslae te raak van slegte vrugte en dit te vervang met die vrug van die Gees.  Ons vervang goed soos roem, jaloesie, kwaad, twis…. met liefde, sagmoedigheid, nederigheid, lankmoedigheid.

Matt 7:18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.

Ons bedien mekaar in liefde.

So maak ons skatte bymekaar waar ons hart is. In ons hemelse tuiste.

Waar lê jou hart, my vriend?

 

 

Leave a comment

Your email address will not be published.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.