Ouma Liefie se vervolgverhaal


OUMA LIEFIE SE HEDENDAAGSE BYBELSTORIES

 

Hoofstuk 1   Want so lief het God ons.

 

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”  Johannes 3:16

 

Oumie Liefie sit soos gewoonlik met al haar kleinkinders om haar, saans op die lekker groot dubbelbed. Elke aand is dit ‘n ander storie, ‘n lekker Bybelstorie soos net Oumie Liefie dit kan vertel.

“Vanaand leer ons van die groot liefde van God”, sê Oumie vir die kinders, en haal dan die vers uit die Bybel aan: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16).

 

Dadelik wil Klara weet of dit dieselfde liefde is as wat Oumie Liefie vir haar, Klara liefhet. “Klara, Oumie is baie baie lief vir al julle kinders, en vir Oupie, en al julle pappas en mammas, maar ek dink God het ons baie meer lief.” Kom Oumie vertel julle hoe baie lief het God ons mense. Julle onthou mos ons het al van Adam en Eva gehoor en hoe God hulle gemaak het?  Nou ja, toe God hulle gemaak het, het God geweet Hy het hulle baie lief en wil altyd net die heel beste vir hulle hê, net soos ons altyd die beste vir julle wil hê”.

“Wat is beste, Oumie,” vra Boeta. “Ai, Boeta, dis ‘n baie goeie vraag,” lag Ouma Liefie. “Beste is ‘n ietsie of iets wat baie, baie spesiaal is, maar dit kan baie verskillende goed ook wees. Maar kom Oumie vertel liewer vir jou wat “beste” nie is nie. Beste, is nie om die meeste geld te hê, of in die grootste huis te bly, of die duurste kar te ry nie.  Beste is ook nie om die mooiste persoon te wees nie, of die meeste vriende te hê nie, en ook nie om die gewildste in die skool te wees nie, of die slimste te wees nie.  En beste is ook nie om die vinnigste te kan hardloop nie, of om ‘n goeie netbalspeler of rugbyspeler te wees nie.”

“Ouma!,” kom Klara tussenbeide, “wat is dan beste, as dit nie al hierdie goed is nie?” “Klara, beste is Jesus Christus, Hy is die enigste Beste wat mens kan hê, en as ‘n mens vir Jesus het, het ons die beste, die heel beste in die hele, hele wye wêreld! Ons mense is baie spesiaal vir God, Hy het ons gemaak omdat Hy ons baie liefhet. Onthou hoe ons al vertel het van toe God vir Adam en Eva gemaak het en dat Hy altyd saans met hulle gaan gesels het, totdat hulle ongehoorsaam was en die verkeerde boom se vrugte geëet het.  Onthou julle daarna dat God hulle uit die tuin van Eden gejaag het?

 

Later het Adam en Eva baie kinders gekry, alhoewel ons net ‘n paar se name ken, was daar baie meer van hulle – daardie jare het die mense mos baie ouer geword as wat ons vandag word.  Maar so het die mense meer en meer geword en later ook al hoe meer ongehoorsaam geword aan God en daarom het Hy toe besluit om die hele wye wêreld te verwoes met al die mense daarmee saam.”

 

“Ja, ja, toe het Noag mos die ark gebou, en net maar agt mense is gered, né Oumie?” sê Klara.  Boeta en Bottervliegie en Lielie wil ook almal tussenin praat en vertel van die baie water en die diere wat God twee-twee die ark laat inloop het. En daar en dan wil hulle nou eers weer die liedjie sing van Noag en die ark.

 

“Noag het ‘n ark gebou,

die mense het hom uitgejou.

Noag het tog so gepleit,

maar hulle hart was vol van nyd.

 

Die reën stort neer in strome,

die reën stort neer in strome,

die reën stort neer in strome,

net maar agt gered.

 

Twee by twee stap hul na bo

die aap en die beer en die kangaroo.

Daar in die ark sit hulle en wag

op die grote oordeelsdag.

 

So sing die klompie van hulle uit volle bors eers gou die liedjie voor Oumie Liefie kan verder vertel. Ouma Liefie lag te hartlik en gee elkeen van hulle sommer ‘n lekker stywe druk, en verseker hulle eers weer van haar liefde vir hulle. “O, dis darem maar lekker om so te sing en God te prys, maar kom Ouma vertel verder van die groot liefde van God.

 

God het elke dag gesien hoe die mense verskriklike verkeerde goed doen en baie ongehoorsaam is. Ai, Hy was so teleurgesteld in die mense wat Hy gemaak het, omdat hulle nie luister nie. Hy leer en vertel hulle so mooi hoe hulle moet leef en wat die regte dinge is om te doen, maar dis asof hulle net vir sulke kort rukkies luister en dan maar weer en weer, ja oor en oor soos Oumie altyd sê, die verkeerde dinge doen en nie wil luister nie.

 

Eendag lank gelede terwyl God so na die mense kyk en die groot liefde wat Hy vir hulle het in sy hart voel brand en Hy sien hoe hulle maak, besluit Hy dat dit nou tyd is dat Hy iets daaraan gaan doen. God het geweet dat as hulle so aangaan sal Hy hulle moet straf, oor hulle ongehoorsaamheid, maar Hy sal nie graag hulle wil verwoes soos met die watervloed nie, nee, daar moet ander plan gemaak word.

 

So het dit dan gekom dat Vader, Jesus en Heilige Gees dit bespreek het, want God wil nie graag weer die mensdom laat vergaan nie. En God wil ook nie hê die mense moet eendag sê Hy was nie ‘n genadige God nie, maar die mens moet weet dat God hulle baie liefhet en dat elke mense eendag self moet kan kies om God ook so baie lief te wil hê.  God se plan was dat Iemand na die aarde gestuur moet word en as mens hier moet kom leef en die straf wat die mens moet kry vir hulle ongehoorsaamheid, kom dra, sodat die mense dan so kan besluit of hulle vir God gaan liefhet met alles binne hulle, of nie!”

 

“Gaan die mense pakslae kry, Oumie?  Gaan Jesus ons kom pakslae gee, omdat ons nie hoor nie?” wou Lielie weet. Ouma Liefie dink: Here, dis so wonderlik hoe U die kinders gemaak het, so opreg en spontaan, as ons grootmense maar ook net so kon wees, dan sou ons nie alles altyd wou uitredeneer met ons verstand nie.

 

“Lielie, Oumie sê mos altyd vir julle dat ons julle nie graag wil slaan nie, maar ons moet sodat julle ore kan oopgaan, want Oumie dink partykeer sit julle op julle ore.  Net so min wil God ons pakslae gee, en sy begeerte is dat ons nou nog in vrede met Hom geleef het, en altyd net gelukkig by Hom gewees het. Omdat die mens nie ‘n robot is nie en self kan dink en besluite neem, en dan die verkeerde besluite neem, moet Hy die ongehoorsaamheid straf, en weet julle hoe het Vader, Jesus en die Heilige Gees besluit dit moet gebeur?”

 

Klara antwoord dadelik; “Ja, Jesus is op Mamma se verjaardag gebore, en het grootgeword, toe hang hulle Hom aan ‘n kruis en toe staan Hy weer op, of hoe nou weer, Oumie?” Oumie Liefie giggel te lekker oor die entoesiasme van die sesjarige kleindogter van haar, en dadelik maak Nienie, Oumie Liefie se oudste kleinkind, vir Klara stil en sê sy moet liewer net luister na die storie wat Oumie vertel. “Wel,” sê Oumie, “dis baie spesiaal, want dit is hoe lief God ons het.  Vader, Jesus en Heilige Gees, het besluit dat Jesus as baba gebore word deur ‘n vrou wat God self uitgekies het om die aardse moeder van sy Seun te wees.”

 

“Dis toe Jesus gebore is,” tree Boeta ook tussen in. “Stil nou julle!” raas Nienie weer, “kan ons tog net luister wat verder gebeur het.” “Wel julle,” vertel Oumie Liefie verder, “God het beskik dat Jesus gebore word en soos enige ander baba gebore word, en grootword as mens, eintlik God-mens, hier op die aarde, saam met ander kinders wat tannie Maria en oom Josef daarna gehad het.  Jesus het ook as jong seun rondgehardloop en saam met sy broers gespeel. Oumie dink ook dat oom Josef, onthou nou – dis Jesus se aardse pa, vir hulle dalk houtspeelgoed gemaak het om mee te speel, want hy was mos ‘n houtwerker en kon baie mooi meubels maak.

 

So het Jesus maar ook nes ‘n gewone seuntjie grootgeword, en toe Jesus omtrent so twaalf jaar oud was, het Hy saam met tannie Maria en oom Josef weer Jerusalem toe gaan. Toe sy ouers terug gaan huis toe, bly Jesus in die dorp agter. ‘n Paar dae daarna kom hulle agter dat Jesus nie by hulle is nie, en toe hulle omdraai en teruggaan om Hom te gaan haal, kry hulle Hom in die tempel, besig met sy hemelse Vader se dinge. Omdat dit nog nie sy tyd was om die Vader se werk te doen nie, het Hy saam met sy ouers huis toe gegaan.

 

“Oumie, nou hoekom was dit nog nie tyd vir Hom nie, kan kinders dan nie voluit vir God leef en werk nie?” wou Nienie graag weet. “Ja, Nienie, kinders kan voluit vir God leef en werk, maar ons moet net baie fyn luister, en hoor wat God daaroor besluit en wanneer Hy dink dis die regte tyd om te doen waarvoor Hy ons geroep het.  Want as ons nie baie mooi luister nie, doen ons die verkeerde goed en is ons ongehoorsaam aan God. En God leer ons uit sy Woord, wat die Bybel is, om te luister, daarom moet ons die Bybel elke dag lees.  God leer ons ook deur mense, soos Oumie nou doen, en ook deur onderwysers by die skole en Sondae wanneer julle Sondagskool toe gaan.

 

Julle het mos nou al van oom Abraham en tannie Sara gehoor, wat al baie oud was en nie kon kinders kry nie. God het vir oom Abraham belowe hy gaan baie kinders hê, maar toe die tyd aanstap en niks gebeur nie, maak tannie Sara gou haar eie plannetjies om kinders te kan hê. Sy gee haar slavin vir oom Abraham om kinders by haar te hê, maar dinge het nie uitgewerk vir haar soos sy gedink het dit gaan uitwerk nie.  Later moes Hagar en haar seun Ismael maar in die woestyn gaan bly. Ons moenie haastig wees in wat ons besluit nie. Ons moet bid en Jesus vra om ons mooi te lei in wat ons moet doen, sodat ons kan doen wat God wil hê ons moet doen, en nie sommer net wat ons self wil doen nie.”

 

Sien, God het ons so lief, dat Hy sy eniggebore Seun – dis nou Jesus – aarde toe gestuur het om die straf vir ons ongehoorsaamheid te kom dra. Daarom moes Hy vir ons gesterf het, want dit is die straf vir sonde.  Omdat Jesus vir ons gesterf en opgestaan het, kan ons nou saam met God eendag in die hemel lewe vir altyd. Ons moet baie versigtig wees oor ons besluite wat ons neem, want God het ‘n bepaalde tyd vir alles in die lewe, ons moet so naby aan God leef dat niks tussen ons en God kan kom nie.”

 

Hoofstuk 2

“En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” Markus 4:9

 

“Ai, Oumie is so bly wanneer julle kindertjies vakansietye by my en Oupie kom kuier. Dis vir ons ‘n groot plesier om julle hier te hê. Julle kinders het so groot geword vandat julle die vorige vakansie hier was Kyk net vir Neikie en Lielie, wat al yslik groot is” sê Oumie Liefie!

 

Ouma Liefie kry sommer trane in haar oë, en haar hart voel of dit uit haar bors wil spring van die groot liefde vir haar kleinkinders. En sy dank so in die stilligheid vir God vir soveel genade dat sy haar kleinkinders mag bederf en ook nog kan geniet, en kan leer. Die lekkerste lekker vir Oumie is om vir hulle stories te kan vertel. Nie stories is wat sy uit haar duim suig nie, maar stories wat sy uit die Bybel op haar eie manier aan die kinders vertel.

 

“Onthou julle waaroor ons die vorige keer gesels het?” vra Oumie die klompie kinders wat nou saam met haar heerlik buite in die sonnetjie sit. Lielie en Neikie onthou net van die pakslae wat God gaan gee as mense nie luister nie, en Boeta en Klara onthou darem dat Jesus gebore moes word om die straf vir die mense se sondes te kom dra of wegvat.

 

Nienie, wat al heelwat ouer is as haar niggies en nefie, vertel toe vir Oumie Liefie dat sy onthou dat Ouma eintlik gepraat het oor die groot liefde wat God vir die mense het. “Ja, ja,” sê Oumie, “dis reg Nienie, die liefde van God, maar ook oor die “pakslae” wat die mense vir hulleself op die hals gehaal het, en die gevolge daarvan.”

… en so vertel Oumie Liefie verder…

“Die vorige keer het Ouma opgehou waar sy vertel het dat alles ‘n bepaalde tyd in die lewe het,en dat ons mooi moet luister om die stem van die Heilige Gees te hoor, sodat ons kan doen wat God wil hê ons moet doen en nie sommer ons eie goed wil doen wat God nie gaan verheerlik nie.

Ons is elkeen met ‘n bepaalde doel op die aarde geplaas.  Dit beteken dat God, net soos met Jesus se geboorte, besluit het dat hier op aarde mense nodig is om ook ‘n ander doel of plan wat God het, te kom doen. En toe… laat Hy vir my en jou gebore word. By die plan en doel sal ons ook nog uitkom, maar kom ons gaan eers aan met ons vorige storie, sodat ons so meer en meer van God en Jesus en die Heilige Gees kan leer.

Toe Jesus so dertig jaar oud was het God Hom eendag daar na Johannes die Doper gelei, sodat Hy gedoop kon word, en dis daar waar die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif, op Jesus neergedaal het, sodat alle geregtigheid vervul kon word, net soos God dit beplan het. Ons lees ook in God se Woord dat dit is waar die Vader self gesê het dat dit Jesus sy geliefde Seun is in wie Hy ‘n welbehae het.”

 

“Heilige Gees, wag Oumie, Heilige Gees was dan in die hemel, toe Hulle gepraat het oor wat om met die mense wat nie wil luister nie, te maak. Nou hoe kom Hy hier by Jesus en hoe was Jesus nou vol van Hom.” wou Nienie graag weet.

“Nienie, onthou ek het al vertel van God, Jesus en Heilige Gees. Toe Jesus aarde toe kom het Hy ‘n aardse liggaam aangeneem, maar sy Gees was nog steeds God, en Heilige Gees is ook nog steeds God. Want God het dit so beplan dat God nie beskuldig kan word dat dit vir ons as mense te moeilik is om God te gehoorsaam nie.  Hy het Jesus as mens gestuur, om met ons menslikheid bekend te kan wees, maar ook later vir Heilige Gees gestuur om in ons te kom bly. Kom ek lees gou vir julle die stukkie soos dit regtig in die Bybel staan, dalk verstaan julle dan van die Heilige Gees.

 

Mattheus 3:16:  “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.”

 Dit is hoe die Heilige Gees vir Jesus kom bekragtig het vir die werk wat Hy moes doen op aarde, Nienie.

Weet julle wat verder gebeur het? Ons lees in Mattheus 4 dat Jesus deur die Heilige Gees, na die woestyn gelei is dat Hy daar deur die duiwel versoek kon word. Jesus het nie eers teruggegaan na sy blyplek toe om klere en kos te gaan haal nie – nee, Hy het sommer direk met net die klere aan sy lyf die woestyn  ingeloop, so gehoorsaam was Hy aan God.”

Jesus het daar in die woestyn vir veertig dae en veertig nagte gebly sonder kos en het naderhand baie honger geword. Dis daar waar die duiwel gedink het hy Jesus vir ‘n slap riem gaan vang. Duiwel het gedink Jesus is swak en uitgehonger en sal sommer maklik doen wat duiwel wil hê Hy moet doen.”

“Ouma, het duiwel ook daar op Jesus se skouer gesit en goed in sy ore gefluister, soos Mamma en Pappa altyd sê duiwel met ons kinders doen wanneer ons nie gehoorsaam is nie?” vra Klara die keer. Boeta is vinnig om ook sy stuiwer in die beurs te gooi toe hy so ewe opmerk; “Nee man Klara, die Gees en die duiwel kan mos nie altwee op Jesus se skouer sit nie!”

 

“Liefies” sê ouma, met ‘n groot glimlag om haar mond oor die kinders se kinderlike opregtheid.  Voorwaar, kinders het geen pretensie nie, dink sy in haar enigheid.  Hulle sê ‘n ding net soos hy is. “Duiwel sit nieregtig op ons skouers nie, ons praat maar net so.  Sien, daar is eintlik drie stemme wat met ons praat; God, duiwel en dan ons eie stem. En dis nie stemme wat altyd hoorbaar is nie.  Dit is gewoonlik net ‘n gedagte wat in ons koppe opkom, dan moet ons mooi dink van wie dit kom.”

 

Is dit God, dan sal dit ‘n goeie gedagte wees, iets goeds wat altyd tot God se verheerliking kan wees. God se gedagtes is altyd goeie gedagtes, goed vir ons en ook goed en aangenaam vir God.

Is dit die duiwel, dan klink dit soms goed, maar wanneer ons daaroor dink dan sal ons sien dat dit net is wat vir hom, die duiwel, goed kan wees, maar nie vir God se verheerliking is nie, en baie beslis nie goed vir ons mense nie.

En soms, dalk die meeste kere, is die gedagtes in ons koppe dalk nie slegte gedagtes nie, maar alles vir onsself. Gedagtes wat net tot ons eie voordeel strek en nie ook tot God se verheerliking is nie. En dit is daardie gedagtes wat dalk kan lei tot ‘n verdiende pak slae of straf en dit is dan wanneer mamma en pappa sal sê die duiwel sit op julle skouers en fluister stoutigheid in julle ore! Onthou nou dat ouma gesê het dat God Gees is.  So is ook die duiwel gees, maar hoe hy voor Jesus in die woestyd verskyn het, weet ouma nie, want die Bybel leer net dat hy na Jesus gegaan het en vir Hom versoek het deur die Bybel te verdraai.”

 

“Agge nee, Oumie!” roep Nienie uit. “Nou verstaan ek glad nie mooi nie, met die Bybel? Hoe?” “O ja, duiwel weet wat die plan was om Jesus aarde toe te laat kom, en hy wou alles in sy vermoë doen om dit te keer. En weet julle wat nog? Duiwel gebruik die Woord met krom draaie om die mense in sy strikke te vang. En hy het verseker gedink daai slenter gaan ook met Jesus werk.”

“Wel, die duiwel ken baie beslis die Bybel, want toe hy Jesus versoek het, het hy gesê daar staan geskrywe: bedoelende versies in die Bybel. Hoor gou, duiwel sê; Daar staan geskrywe:  “Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.”

 

“Kyk toe duiwel destyds met Eva gepraat het, het hy mos kom sê: “Is dit ook so dat God gesê het, julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”  Dit terwyl God gesê het dat Adam van al die bome van die tuin vry mag eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag hy nie geëet het nie. Sien weer die skelmheid van die duiwel, hy gaan nie eers direk na Adam toe nie, nee, hy gaan agteraf na Eva toe en praat met haar, want hy het goed geweet God het die opdrag aan Adam gegee, en Adam moes eintlik toesien en omsien dat Eva nie daarvan eet nie.

En nou met Jesus se versoeking kom hy sowaar weer met ‘n reguit Woord in ‘n krom draai en sê vir Jesus; “As U die Seun van God is…” Dit is nie asof duiwel nie geweet het dat Jesus die Seun van God is nie, o nee, hy het baie goed geweet Jesus is die Seun van God, maar die duiwel kom net om te steel en te slag en te verwoes, so sê Jesus self daar in Johannes 10 vers 10, en Hy, Jesus het gekom dat die mens lewe en oorvloed kan hê.

So het duiwel Jesus versoek, maar kon niks met Hom regkry nie, omdat Hy waarlik die Seun van God is en alleen op God vertrou het vir en in alles wat Hy gedoen het. Sien julle kinders ook dat die duiwel met slim draaie kom en dit klink asof hy sommer vir Jesus koggel wanneer hy sê: “As U die Seun van God is… doen dit of doen dat…”  So maak die duiwel ook met ons mense, hy kom met mooi woordjies en lekker dinge om ons in sy vangstrikke te vang.

 

Daarom sê oumie altyd vir julle, maak oop julle ore en luister mooi, want ore is nie gegee net vir oorbelle nie, of is nie twee ornamente langs jou kop om jou kop mooi te laat lyk nie, dit is om mee te hoor!” “Of blompotte nie!” skree Neikie uit volle bors.  Almal lag te lekker vir haar. Terwyl die kinders so heerlik lag vir die snaakse sêgoed, dink Ouma Liefie dat dit nou die ideale tyd is om die ou liedjie te sing waarvan hulle so hou, voor sy dan sal afsluit met gebed.

 

Saam sing hulle dan:

Oppas ogies, oppas ogies waar jul kyk,

Oppas ogies, oppas ogies waar jul kyk,

In die hemel is die Heer, sien met liefde op ons neer,

Oppas ogies, oppas ogies waar jul kyk.

 

Oppas oortjies, oppas oortjies wat jul hoor,

Oppas oortjies, oppas oortjies wat jul hoor,

In die hemel is die Heer, sien met liefde op ons neer,

Oppas oortjies, oppas oortjies wat jul hoor.

 

Oppas mondjie, oppas mondjie wat jy sê,

Oppas mondjie, oppas mondjie wat jy sê,

In die hemel is die Heer, sien met liefde op ons neer,

Oppas mondjie, oppas mondjie wat jy sê.

 

Oppas handjies, oppas handjies wat jul doen,

Oppas handjies, oppas handjies wat jul doen,

In die hemel is die Heer, sien met liefde op ons neer,

Oppas handjies, oppas handjies wat jul doen.

 

Oppas voetjies, oppas voetjies waar jul loop,

Oppas voetjies, oppas voetjies waar jul loop,

In die hemel is die Heer, sien met liefde op ons neer,

Oppas voetjies, oppas voetjies waar jul loop.

 

En so het die kinders nog ‘n lessie geleer uit Oumie Liefie se hedendaagse Bybelstories.

-word vervolg-

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.