Ouma Liefie se vervolgverhaal …hoofstuk 3 2


Hoofstuk 3

“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?” 1 Korinthiërs 6:19

Die kinders geniet Oumie Liefie se hedendaagse Bybelstories baie en wil altyd net meer en meer weet. Daarom help hulle gou om die huis aan die kant te kry sodat hulle weer buite in die heerlike wintersonnetjie kan gaan sit en stories luister.

Oumie Liefie herinner die kinders aan die storie om hulle ore te gebruik waarvoor dit bedoel is, en almal lag weer hartlik saam oor wat Neikie gesê het. Nienie sit ook daar en Ouma sien sommer aan die stil glimlaggie om haar mond en die twee kuiltjies wat net so onder haar oog op haar wang induik, dat haar gedagtes ver paaie loop.

“Nien” sê Ouma vir haar oudste tiener kleindogter: “Deel ook jou binne-pret met ons!” “Ag Oumie, ek giggel sommer nou so in my binneste, oor die ore storie.  Mamma sê mos gereeld vir ons as ons bietjie wil skinder, dat sy nie haar ore uitleen vir gemorskos nie!”

Klara en Boeta kyk mekaar aan met baie lag in hulle oë, om die volgende oomblik kliphard uit te bars van die lag!  En die lekker lag van hulle steek sommer die ander drie kinders en selfs vir Oumie Liefie aan om saam te lag, al weet niemand eintlik waaroor daar gelag word nie.

Later vee hulle almal die trane uit hulle oë en wil Ouma weet waaroor die lag nou eintlik gegaan het.  Dadelik begin Boeta weer skree soos hy lag en hou later sy maag vas so lag hy.  Ouma staan op en gaan skink eers vir hulle almal heerlike vrugtesap in, sodat die kinders weer rustig kan raak.

Toe sy terugkom by die klompie kinders toe het die laggery darem bedaar en kan Boeta vertel waaroor hy so geskater het. “Oumie, stel Oumie voor, gemorskos in jou ore!” vertel hy met ‘n stem dik vol van die lag. “Ja”, sê Klara, “Ek het ook die prentjie gesien van ‘n klomp slaptjips so in my ore. Ouma, ons eet mos nie met ons ore nie, hoe leen ons dan ons ore uit vir gemorskos?” “O ja, ons doen hoor.  Ons leen graag ons ore uit vir gemorskos.”

… en so vertel Oumie verder…

“Onthou julle die liedjie wat ons gesing het die vorige keer?” Die kinders dink so bietjie, en skielik kan hulle so stuk-stuk onthou van ore en oë en handjies, en so begin hulle naderhand die lied te onthou en sing hulle hom weer heerlik saam. Nienie kon dadelik twee en twee bymekaar sit en vier kry, maar die kleintjies het nog bietjie gesukkel. Klara vra so ewe, wat word bedoel met oppas oppas wat hulle doen.

Oumie Liefie is gou by om te help, toe sy sê: “Kom ek verduidelik dit op ‘n ander manier aan julle.  Julle onthou mos dat Oumie daar in die begin met julle gesels het oor die duiwel en wat hy met Eva en Jesus gedoen het, nè? Onthou julle dat Oumie gesê het dat duiwel kom met slim draaie na mense toe. Ons noem hom die sielevyand, en die Bybel vertel ons ook dat hy die vader van leuens is.”

“Ja,” sê Nienie, “oumie het ons mos vertel dat duiwel goed in ons ore fluister, en wanneer ons dan doen wat hy ons influister, ons ongehoorsaam is aan wat God vir ons wil hê, nè Oumie?”

“Sien, God het ons ou mensies baie spesiaal gemaak. Toe God ons gemaak het, het Hy nie regtig soos Oumie partykeer praat, modderkoekmannetjies gemaak nie. Maar tog ook!  Julle weet mos dat niks vir God onmoontlik is nie?”

“Ja, maar vir ons is baie dinge onmoontlik, nè Oumie,” sê Klara. “Kyk maar na my klein sussie, sy kan nog nie fiets ry nie omdat sy nog te klein is.” Neikie en Lielie is ook vinnig by met hulle bydrae tot die “Onmoontlike” toe hulle noem dat mense nie kan vlieg nie, al wil hulle graag!  Soos Boeta in pyn en lyding moes uitvind toe hy uit die boom wou vlieg met die sambreel oop bo sy kop en agtergekom het dat die swaartekrag trek hom in elk geval soos ‘n klip af grond toe!

“Nou ja,” sê Oumie; “omdat niks vir God onmoontlik is nie, het Hy die mensies baie spesiaal gemaak.  Kom Oumie verduidelik dit sò: In Genesis 1:26 lees ons dat God die mens gemaak het. Baie spesiaal, want ons is na die beeld, en gelykenis van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees gemaak.  Dit was die gees van die mens wat God gemaak het.

Dan lees ons mos ook in Genesis 2:7 dat God die mens geformeer het uit die stof van die aarde. Ja, dit is hier waar God die modderkoekmannetjie gemaak het.  En nee, dis nie twee verskillende mense wat God gemaak het nie, dis een mens.

En nou, liewe kinders, doen God ‘n groot spesiale ding vir die mens – Hy blaas asem in die mens, asem van die lewe, en dit noem Oumie die siel van die mens, nie omdat Oumie slim is nie, maar omdat die Bybel Oumie al hierdie goed leer! Laat Oumie gou lees wat regtig in die Bybel staan:

Genesis 1:26:  “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

Genesis 2:7:  “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende siel geword.”

Sien julle hoekom Oumie altyd vir julle sê dat elkeen van julle so verskriklik besonder is?” Die kinders sit tjoepstil en Oumie Liefie kan sommer sien dat daardie breintjies in die hoogste rat besig is om die dinge wat sy nou kwytgeraak het, te verwerk.

Klara tree ook vining op, toe sy iets onthou wat sy by die Sondagskool geleer het. “Oumie, Juffrou het ons by die Sondagskool geleer dat ons gees is en ‘n siel het en in ‘n liggaam bly, en nou verstaan ek dit!  Sondag gaan ek vir Juffrou vertel hoe Oumie dit verduidelik het”, sê sy met blydskap in haar stemmetjie.

“Oumie Liefie, vertel asseblief nou verder van die ore en gemorskos, want ek wil regtig weet hoe dit nou werk” sê Boeta ook vining, en die ander kinders beaam dit ook. “O ja, oumie het al ampertjies vergeet waar ons laas nog mee besig was,” lag sy.

“Nou ja, omdat ons so baie spesiaal is, en ons liggame eintlik die tempel van die Heilige Gees is wat in ons woon, moet ons dit baie mooi oppas. En ouma praat nie nou net van goeie gesonde kos eet en oefeninge doen nie, dit is die liggaam se oppas daardie, maar daar is ‘n ander baie belangriker deel van ons mens-wees wat ons baie goed moet oppas, want dit is die deel wat vir God en Jesus en die Heilige Gees die belangrikste is.  Wie van julle kan vir oumie sê watter deel dit is?”

Die klompie kleinkinders roep almal sommer so gelyk uit, die gees! en die ander een sê dit is die siel!  Tipies kinders wil die een mos slimmer wees as die ander ene, en wil, wil dit net begin lyk asof daar ‘n klein oorloggie kan uitbreek.  Gelukkig roep Ouma Liefie vinnig halt, en sê die kinders kan maar ontspan want hulle is reg, dit is die siel, maar dit is ook die gees van die mens wat baie belangrik is en goed opgepas moet word vir God, vir Jesus, en ook vir die Heilige gees.

“Want sien, julle kinders, hoekom Oumie sê julle is reg met beide die gees en die siel is omdat die gees van die mens aan God behoort en weer eendag terugkeer na Hom toe, en die siel ook, eendag wanneer ons sterwe sal die siel terugkeer, want die siel is mos die asem van God, en wanneer ons doodgaan gee ons eintlik God se asem terug aan Hom.  Dit is eintik al manier hoe Oumie dit aan julle kinders kan verduidelik sodat julle dit makliker kan verstaan.

Want hier lê die geheim.  Die gees in ons is waar die hart van die mens is, daar waar ons al Jesus se liefde kan ervaar. Oumie het mos al vir julle vertel dat ons God moet liefhê uit ons hele hart, uit ons hele siel, uit ons hele krag en uit ons hele verstand; en jou naaste soos jouself, soos Lukas 10:27 ons leer.

En hierdie spesiale ek en jy moet ons so mooi oppas vir God dat dit nie vol van die verkeerde goed geprop word nie.  Nee, wat vergeet maar van die slaptjippies, en lekker kossies, oumie praat nou van goed wat die siel en die gees siek maak en vuil maak, sodat ons God se hart breek, want dit wat Hy wil gebruik tot sy eer, besoedel ons met “gemorskos”.

Sien, ons as mense maak ons siel vuil wanneer ons dit vol “gemorskos” prop, dit is die plek waar ons emosies weggesluit lê, die verstand is daar waar ons wil en denke lê, en die krag waarvan ons in Lukas 10:27 lees is dan ons liggaam, daar waar ons spiere is, waar ons krag is. En die gees, wat ons hart is, is mos waar die liefde lê waarmee ons God en alle ander mense moet liefhê.

Kortliks sal oumie so sê: ons hart is waar ons gees en die liefde is, ons siel is waar ons emosies en geaardheid is, en ons verstand is waar ons wil en denke is – daar waar ons besluite neem, en die krag is ons liggame. Hierdie vier elemente het God alles gemaak sodat ons alles tot sy eer en verheerliking en tot sy gebruik beskikbaar moet stel.

Onthou julle dat Oumie eendag vir julle vertel het dat ons mense nie robotte is nie, maar dat God ons mense met verstand gemaak het sodat ons self besluite kan maak. Ek het dit vir julle vertel toe ons gepraat het of julle julle harte vir Jesus wil gee, en God se kinders wil word. As ons robotte was, sou dit nooit vir Jesus nodig gewees het om aan die kruis vir ons sondes te sterf nie, maar omdat ons spesiaal geskape mense is en God ons baie liefhet, daarom het Jesus aan die kruis gesterf sodat, ons eendag by God in die hemel kan bly vir ewig en ewig.

Neikie roep sommer dadelik uit: “Oumie dit is hoekom ons moet kies om ‘n kind van God te wil wees, omdat Jesus ons wil gebruik en nie robotte wil gebruik nie want robotte kan nie liefhê, voel, ruik, proe, hoor en sien nie!  Hulle is net mensgemaakte masjiene!”

“Ja oumie, hulle kan ook nie ander mense of vir God en Jesus en die Heilige Gees liefhê nie.  Robotte is sommer net dooie goed, en mense maak hulle, maar mense kan nie die asem van die lewe in hulle blaas en van hulle lewende siele maak soos God ons gemaak het nie,” las Lielie ook haar stertjie by.

“Oumie sien dat julle verstaan, en ek is so bly, want nou sal julle verstaan wanneer ek nou die “gemorskos” verduidelik wat ons ons siele en gees mee vervuil en mee volprop. Laat ons bietjie kyk wat ons byvoorbeeld alles op televisie sien. Is alles op die televisie tot eer van God? Wat leer ons alles op die programme waarvan ons so hou om na te kyk.  Oumie gaan nie name hier noem nie, oumie wil hê julle kinders moet self gaan kyk en vra dat mamma en pappa saam kyk en vra hulle vrae as julle goed sien wat vir julle verkeerd is. En dan vra ons ook vir God om deur die Heilige Gees aan ons te openbaar wat verkeerd is.

Al wat ouma hier gaan sê is dat julle moet kyk hoeveel van die programme gaan spesifiek oor goed en kwaad, wat nie altyd verkeerd is om na te kyk nie, want in die Bybel leer ons van goed en kwaad. Maar kyk ook hoe lyk die “kwaad” wat hulle wys, in watse gedaante kom die “kwaad” voor en in watse gedaante kom die “goed” voor.

Deur na die verkeerde programme te kyk prop ons ons siel en gees vol van die verkeerde dinge in die lewe. Later word ons makliker in die web van die ou duiwel gevang wanneer hy ons in die versoeking lei, omdat ons gesien het dat die mense op televisie die verkeerde doen en niks oorkom nie. Ons  dink dan ons kan dit ook doen. Net soos duiwel met Eva gemaak het.

Nog “gemorskos” waarmee ons ons siel en gees bemors is sekere musiek.  Luister veral na die woorde van die liedjies. Is dit alles tot eer en verheerliking van God?

Ander “gemorskos” is plekke waar ons heengaan.  Ons moet bid dat die Heilige Gees ons sal leer en lei dat ons voete sal gaan op die weg wat Hy ons wys en leer dat dit tot eer en verheerliking van God en Jesus Christus sal wees.

Dan moet ons ook kyk na die “gemorskos” wat ons met ons hande vat.  Ons mag nie goed vat wat nie ons eiendom is en aan ander mense behoort nie. ‘n Maklike voorbeeld is sommer in die klaskamers waar julle elke dag deurbring.  Maak seker dat jy nie jou maat langs jou se pen of potlood of enigiets, selfs sy of haar toebroodjies vat as dit nie joune is nie.  Dit is ook goed waarmee ons ons siele bevuil.

Dan is daar nog “gemorskos” wat ons met ons eie monde ons siel en gees bevuil.”

Nienie lag lekker en sê: “Oumie ek dink nie oumie dink nou aan wat ons eet en drink nie, maar liewer oor wat ons sê en praat.” “Ja, my kind, dit is presies wat oumie met die mond bedoel.  Wat praat ons, wat skinder ons, watter leuens vertel ons?  Kan ons eerlik uit ons harte getuig dat ons altyd die waarheid praat, of verdraai ons graag stories om onsself te beskerm, wat natuurlik dan ‘n leuen sal wees.  Selfs wanneer ons wil stories aandra oor maats of wat boetie of sussie of nefie of niggie nou weer gedoen het, is dit skinder en dit is waarmee ons dan ons siel en gees bevuil.

Nie omdat Oumie Liefie so sê nie, maar dit is omdat die Bybel sê ons moet almal liefhê soos ons onsself liefhet.  En nou vra ouma vir julle of julle van julleself sal lelik praat, of van julleself sal skinder, of op julleself afgunstig sal wees, of van julleself nie sal hou nie?

Sien julle nou wat Oumie bedoel met ons ore vol gemorskos prop, daardie gemorskos waarna ons kyk, luister, waar ons gaan en wat ons met ons hande doen, dit is die goed waaraan ons ons ore uitleen.

En wanneer ons ore uitgeleen word aan die gemorskos, leen ons sodoende ons ore uit aan duiwel en doen ons wat verkeerd is in die oë van God wat ons liefhet en nie wil hê dat ons verkeerd moet doen nie.

Boeta en Neikie, julle mamma was nog ‘n klein dogtertjie van drie jaar oud toe sy eendag vir Oupie vra wat maak Jesus in mens se hart?  Oupie het geantwoord dat Jesus die hart van die mense uitvee, al die vuilgoed wat daar opgaar vee Jesus deur die Heilige Gees uit, sodat Hy in ‘n skoon hart kan bly, en met ‘n skoon siel kan werk om baie ander mense na Hom toe te bring dat hulle ook hulle harte vir Jesus kan gee.

Julle sien, die mens kies self om sy siel vuil te smeer met die verkeerde goed wat hy kies om te kyk, te hoor, te doen, daarom moet ons pasop wat ons kies om te doen.

Nou gaan oumie eers vir julle die liedjie leer oor ons liggame wat ‘n tempel van die Heilige Gees is, en dan wil Oumie graag hê dat wanneer julle by julle eie huise is, julle sal kyk watse “gemorskos” daar nog is waarmee ons ons harte, siel en gees bemors en dan kom vertel julle my volgende keer ‘n storie, reg so?”

Die kinders is baie opgewonde oor die liedjie en kan nie wag nie, en so leer Oumie Liefie vir hulle die liedjie:

Weet jy nie, weet jy nie jy’s ‘n tempel (x 3)

Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde (x 3)

Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Ja, ek weet, ja ek weet ek’s ‘n tempel (x 3)

Ek is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde (x 3)

Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Mag ons almal baie versigtig wees in wat ons dink, doen en praat!


Leave a comment

Your email address will not be published.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

2 thoughts on “Ouma Liefie se vervolgverhaal …hoofstuk 3