Knysna Tragedie


15-06-2017

Vrydag kom daar ‘n video deur op Whatsapp.  Knysna brand! Bid asseblief! Vir reën!  Ek stop dadelik alles wat ek doen en stap na my kamer en bid.  Ek keer terug na my kantoor en gaan kyk op ‘Youtube’.

Knysna … wat is die kans? Kom ek kyk maar. Daar tref die skok my!  Ek is terug in my kamer en nou huil ek en pleit by Vader. “Help hierdie mense, asseblief Here. Hulle het U nodig!”

 

Die hele dag verder is dit oral nuus.  Ek kyk glad nie televisie nie, so ek Youtube nou en dan.

Al wat ek sien is tragedie op tragedie, vlamme en vlamme. My hart breek soos seker almal s’n.  Skielik is die land in rep en roer.  ‘Drop-off points’ word geskep vir donasies.  Onder die leiding van die Heilige Gees stel ek ook my plek beskikbaar.  Skenkings stroom in.  Instansies stel trokke beskikbaar vir vervoer na Knysna.

Ek neem die aand weer ‘n oomblik en raak stil voor God. Here sê ek, ek vertrou U met die skenkings. Bring dit in. My lapa van 35 vierkante meter is beskikbaar. Die Here maak hom vol van hoek tot kant en van die vloer tot teen die dak. By die deur, stop die skenkings vanself. Ek kan net glo dat God dit as afgehandeld beskou.  Die lapa is vol.

En wonderbaarlik kom daar een laaste skenking in! Een enkele Bybel. Geen boks, geen sak. Net die splinternuwe Bybel. In my hart weet ek dis God se stempel op die vrag. Hy het dit kom verseël.

Ek loof en prys Hom. Ek dank Hom vir alles. En ek kan skielik stil word en so duidelik God se hand in alles raaksien.

Donasies stroom in van oral – NG Kerk Wonderpark en Haakdoornboom, Volle Evangelie Pretoria Noord en Evangelies-Gereformeerd Maranata.  En dan Absa Sinoville, Montana en Pretoria Noord.

Die getuienisse begin ook reeds instroom. Knysna se inwoners wat getuig van wonderwerke. Die een klein dogtertjie wat die vlamme bestraf in Jesus se Naam en beveel om van hulle huis af weg te draai terwyl haar ouers bid. En die vlamme gehoorsaam. Alles rondom hulle houtskool en hulle huis staan ongedeerd.

Die dame wat twee weke terug opdrag gekry het om daagliks om haar huis te stap en te bid. So gedoen vir sewe dae. Haar huis staan ongedeerd.

En ek dink by myself: mense wag altyd vir tekens en wonderwerke. Wat anders as ‘n wonderwerk was die reën wat God gestuur het toe ons vanuit die droogte gebid het?

Tydens ‘It’s Time’ – meer as ‘n miljoen sak saam en bid. God stuur die reënboog bokant die drie kruise. ‘n Reenboog wat die teken is van God se verbond.

Nou hierdie verwoestende brand! God bring ‘n nasie saam. Talle mense staan saam en bid saam en samel kos en klere in vir diegene wat alles verloor het.

En dan staan ek stil en dink.  Wat het ons bedoel by ‘It’s Time’?  Het ons dalk vir God te kenne gegee dat ons as land(SA) sal terugkeer na God. Doen ons?

Deut 32:1-7  Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots – volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag. Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie? Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.

Deut 32:16-23  Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie. Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters. En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie. Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat ‘n nie-volk is, deur ‘n dwase nasie sal Ek hulle terg. Want ‘n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek. Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.

Jes 2:6-10  Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel. En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie. Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het. So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit nie vergewe nie.

Het ons gebede en toewyding nie dalk daar op ons knieë in Bloemfontein agtergebly nie? Ons het teruggekeer na die gewone dolle gejaag van die stad. Terug na ons afgode(televisies, selfone, wii’s, playstations, rykdom, drank, losbandigheid, afguns, haat, jaloesie, dronkenskap, dwelms ….).

God is dieselfde, altyd!  Hy is regverdig en getrou. Hy sal ons as nasie weer oprig, maar slegs as ons Hom met erns aanroep. Wat gaan ons as nasie doen? Gaan ons sy aangesig soek? Gaan ons herstel by Hom soek?  Vergifnis? Gaan ons?!

Sondag ry ek kerk toe.  Ek dink terug aan Deut 32:7  Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.

Ons voorouers was ‘n Godvresende volk. Ek onthou toe ek bitter klein was. Op ‘n Sondagoggend was jy in die kerk en daarna Sondagskool. Bewaar jou as ‘n vreemde oom jou in die straat kry in plaas van by die sondagskool.  Hy het jou sommer ‘n ordentlike loesing gegee en persoonlik sondagskool toe geneem.  Die winkels was gesluit op ‘n Sondag.  En daar was beslis nie ‘n ‘dop shop’ oop op ‘n Sondag nie.

Mense het nie Sondae gekyk hoeveel geld hulle kan maak nie, nee hulle het God geloof en eer en dien in die kerk vir dit wat Hy hulle die ander ses dae van voorsien het.

Nou sien ek fietsryers in die straat, winkelsentrums stampvol,  gesinne wat kuier by die damme en piekniekplekke… en die kerkbanke bly leeg.

Hoekom wil jy hemel toe gaan as jy nie wil kerk toe gaan nie?

Hoekom vra ons nog: “Waarom laat God die rampe toe?” Ons het Hom dan uit ons skole, uit ons huise, uit ons lewens, en selfs in sommige gevalle uit ons kerke verdryf.

 

Suid Afrika, keer terug!

 

-Janine Visagie-

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.