Gemeente Kamp 2017


Gemeentekamp 26 – 28 Mei 2017

Ek is gevra om ‘n verslag te skryf oor die gemeentekamp…maar ek het besluit om ‘n blog te skryf, gaan baie makliker wees.  So, hier volg my ervaring van die kamp wat gehou is by NG Kerk Magaliesberg Jeugkamp naby Brits.

Vrydagoggend is dit ‘n geskarrel in ons huis om te pak en alles reg te kry.  Intussen moet manlief nog ‘n spitbraai gaan optel en die varkie, want ons is verantwoordelik vir Saterdag se spitbraai. So tussen al die gewerk deur bid ek en vra ek dat die Here die naweek met ons moet wees.  Dat elkeen op die kamp meer van Hom kan leer.

Uiteindelik is ons op die pad…maar baie later as wat ons beplan het.  By die kamp aangekom moet ons eers ‘n 4 X 4 roete trotseer om by die kampterrein te kom.  Maar ons en die varkie met die spit kom veilig op die terrein.  Ons kry ons huisie.  Huisie se naam is Moepel.  Oulik, dink ek by myself.  Elke huisie het een of ander boom se naam.  En hier kom die skok vir my sisteem…binne in die huisie is daar 8 beddens.  Maar o weë, dit is stapelbedjies. Enkelbedjies. Skoonma wat saam ons gaan kamp het, se eerste reaksie is: “Ek gee nie om waar ek slaap nie, solank dit onder is.”  In my stilligheid dink ek: “Ja beslis ma, ek slaap ook onder.”  Ons sal oorleef.  Het al erger dinge in die lewe deurgegaan.

Vrydagaand is maar dol in die begin.  Ons chef moet jaag met die kos en glo my, hy moet vinnig maak want almal se magies grom al van die honger.  Ds.Wimpie besluit ons moet solank begin met die program.  Ons spreker vir die naweek is ds.Gerhard de Wet.  Die tema waaroor hy gaan praat is “Verhoudingvaardighede”.  My eerste gedagte is: “Here, ek is hierom meer van U te leer. Ek wil tog nie hoor van verhoudingsvaardighede nie.”  Maar ons is nou op die kamp so sit en luister moet jy.  Ds.Gerhard se woorde dat as jou vertikale verhouding met die Here nie reg is nie, sal jou horisontale verhouding met mense ook nie reg wees nie, doen iets in my gemoed.  Ek besluit daar en dan ek wil meer hoor.  Ons leer Vrydagaand vinnig van 4 dimensies van gedrag.  En so tussenin was daar heerlike kos op die tafel en is ons innerlike versterk.  Nou durf ons die bedjies aan.  En tot my verbasing is dit nie so erg nie.

Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere.  Die nabyheid aan die natuur laat my opnuut God se grootheid besef.  Die stilte.  Die Here se stem in die stilte van die wind.  Dit alles is so groot.  Die sessies begin en ons leer verder van “Verhoudingvaardighede”.  Die besef kom net by my op dat die Here elke mens so uniek en wonderlik gemaak het.  En al is daar by sommige van ons moontlik sekere karaktereienskappe wat dieselfde is, is elkeen van ons uniek deur God geskape.  Ons leer hoe om onsself te verstaan en ook hoe om ander te verstaan.  Hoe verstaan jy iemand wat net mooi die teenoorgestelde karaktereienskappe as jy het.  Dit was so ‘wow’ gewees.

Ons het Saterdagoggend ‘n heerlike “brunch” gehad en die middag was daar ook tyd vir ontspanning en rus.  Ons het ook deur die oggend twee sessies deurgewerk en die middag nog een.  Ons het baie geleer van die 4 verskillende gedragsstyle.  Maar die belangrikste is om te besef ‘n goeie verhouding met die Here sal deurwerk na my huis en my gesin, wat dan ook verder sal uitkring na buite.

Aandete vir Saterdagaand was die heerlike spitbraai.  Elkeen op die kamp kan werklik sê dat ons innerlike baie goed met kos versterk is en dat ons baie lekker geëet het.  Ons het die aand slegs ‘n kort rukkie aan ‘n sessie spandeer.  So is die bedjies vir die laaste aand aangedurf.  Saterdagnag was daar ‘n wind wat deur murg en been gewaai het.  Maar die bedjie was heerlik warm.

Sondagoggend was dit weer vroeg uit die vere.  Ek het vinnig die chef gaan hand gee in die kombuis.  Terwyl ek daar in die kombuis doenig was, het ek besef hoe uniek ons is.  Almal het maar so op ‘n streep wakker geword en kom koffie soek.  Gekla oor die koue wind wat buite waai.  Maar binne was ons harte warm.  Ds.Wimpie het die oggend se woordbediening behartig en met ons gedagtes gedeel rondom Psalm 100 wat handel oor die oproep om God te prys.  Hy het met ander Skrifte daarop uitgebrei en ek het net weer besef watter groot voorreg ons het om God elke dag openlik te loof en te prys.

Ds.Gerhard het die kamp afgesluit met ‘n sessie waarin hy die 4 gedragstyle vir ‘n laaste keer behandel het met voorbeelde uit die Woord.  Dit was so ‘n groot openbaring om te sien hoedat Paulus, Petrus, Abraham en Moses (wat elkeen ‘n gedragstyl verteenwoordig het) verander het nadat hulle ‘n ontmoeting met die Here gehad het.  Ons het die kamp afgesluit met ‘n heerlike burger wat chef Derek met soveel liefde voorberei het.  Daarna was dit oppak en huistoe.

Hierdie kamp het ‘n groot impak op my lewe gehad. Daar is 4 gedragstyle met ons bespreek.  Elke liewe mens regoor die wêreld het een van die vier gedragstyle en op die einde maak daardie gedragstyl van jou die mens wat jy is.  MAAR as jy toelaat dat die Here die pad saam met jou stap en jou hand vashou word die negatief in daardie gedragstyl iets baie positief.  En  daarom is dit my gebed dat die Here my so sal verander dat my vertikale verhouding met Hom in lyn sal wees sodat my horisontale verhouding met mense ook in lyn kan wees en ek Hom in alles kan verheerlik.

Sandra Thorpe

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.