GEE DAN AG


Hand 20:28  Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 

Wanneer ek hierdie baie kosbare Skrif lees dink ek altyd so daaraan. 

“’n Swanger mamma en haar man kom in ‘n ongeluk, die man oorleef dit nie.  Hoog swanger word die mamma ingelig dat dit haar of die baba se lewe is.  Sy kies uit liefde sonder huiwering haar ongebore baba se lewe en offer haar eie op.  Maar voor sy sterf het sy tyd om te besluit wie haar baba moet groot maak.  In bitter baie pyn oorweeg sy die opsies.  Daar is soveel morele standaarde, karakter eienskappe wat oorweeg word.  Is dit ouma en oupa of dalk ‘n tannie, moontlik vriende.  Uiteindelik glo ek sou die mamma iemand kies met dieselfde uitkyk op die lewe as sy en haar man.  Iemand met dieselfde standaarde en geloof.  Wat haar kind sal leer en liefhê net soos sy.”

Ek behoort hier te kan ophou.  Maar hier is my siening…

Dit is presies, hoe ek glo God geestelike ouers, predikers, leiers, diakens, ouderlinge, sondagskool onderwysers ens.  kies vir Sy kinders.  Daarom die woorde ‘ Gee dan ag op julleself’.

Hierdie kudde van God wat Hy aan jou sorg toevertrou, gemeente lidmate, sondagskool kindertjies ens. is duur gekoop deur Sy bloed.  Dit was ‘n fisiese en geestelike stryd aan die kruis wat gemaak het dat hierdie kuddes onder jou geplaas is.  So dan ook vir verlore siele.

Daar is twee opdragte van God wat nie opsioneel is vir enige kind van God nie.  In gehoorsaamheid behoort jy hierdie twee opdragte ernstig op te neem.

  1. BID –      Luk 10:2  Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.M.a.w. “Julle sal bid, dis NIE ‘as’ julle bid nie”.  ‘Bid dan’ Dis ‘n opdrag.
  • DISSIPELSKAP     –    Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…. –  Weereens het Jesus nie uitsonderings gemaak nie.  As jy gewederbaar is, is jy outomaties ‘n bidder en dissipel en daarom ook uiteindelik ‘n dissipel maker.

Maar om bruikbaar te kan wees in Sy koninkryk, moet jy ag gee op jouself.  Kyk wat sê: 2 Tim 2:21  As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. 

Wat vir my kosbaar is, is dat elke keer wanneer God ‘n gedagte op my hart lê om oor te skryf, vat Hy my eers op die pad sodat ek van ondervinding mag skryf.  Dis ‘n kosbare wandelpad wat ek stap met Jesus Christus.  Hy berei jou voor vir elke siel op jou pad.  Jy sal ook eers vreugde in Jesus ervaar om dit te kan uitstraal na ander.  Jesus sal jou liefde toon en in jou hart kom plaas sodat jy mense met Jesus liefde kan trek.  Hy sal jou laat wag op gebede om jou geduld te leer en stil te wees.  Hy sal jou gebrokenheid gebruik om jou te leer om op Hom alleen te vertrou.  En my mees onlangse ervaring.  Hy sal jou lyding gee sodat jy ander se lydinge sal verstaan wanneer jy hulle moet bemoedig en voor bid.  Hy sal jou bruikbaar maak as jy bruikbaar wil wees.  Maar jy sal moet ag gee op jouself, want God gaan ‘n opsiener verlang wat Sy kuddes met dieselfde standaarde as Sy standaarde te lei, onderrig, liefhê en te bemoedig. 

Die belangrikste is dat ons ‘n besliste gewillige besluit moet neem dat ons vir God se koninkryk beskikbaar sal wees.  Ons kan nie tevrede met bekering agteroor sit, salig oppad hemel toe sonder ‘n kommer of passie vir verlore siele nie.

Gee ag op jouself.

Vra jouself af: “Bid ek dat die Here arbeiders sal stuur om verlore mense te bereik”

Gee ag op jouself, of jy n arbeider is.

Vra jouself af: “Is ek besig met die groot opdrag. Sy laaste opdrag, my eerste prioriteit”

Gee ag op jouself, of jy n dissipels is.

Janine Visagie

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.