Gebed uit ‘n gebroke hart


Gebed uit ‘n gebroke hart

2017-06-21
09:32

Here ons het U lief, ons wil U dien.  Ons is u kinders. U, Here Jesus, het ons met u kosbare bloed gekoop. U is die Enige, Waaragtige God.  Ons loof U, ons prys U, ons aanbid U, ons soek U, en ons roep U aan!
Of so sê ons…
in die dag van ons benoudhede…ja…
wanneer ons U nodig het…ja…
wanneer die geldbeurs leeg raak…ja…
wanneer ons siek word…ja…
wanneer die kos op die tafel min raak…ja…
En, en, en,..

So kan ons ‘n lang lys opstel, Here, vir wanneer ons al hierdie mooi en regte dinge doen.

Maar, Here my God, roep ons U aan met opregte harte, met harte wat God, ons Skepper behaag?
Here, U Woord is tog daar vir ons om ons te leer wat U wil vir ons is.
O Here my God, my hart, my siel, en my hele wese roep U aan!  Here leer ons dan bid!
Maak van ons bidders, my Vader!
U sê in u Woord dat u huis ‘n huis van gebed genoem sal word, maar o my Here, waar is dan die bidders?
U kinders praat en praat net godsalige, leë woorde, ons is erger as witgepleisterde grafstene, ons monde is groot, Here, maar hoe lyk ons harte vir U?  Is dit opreg?

Ons roep U aan, met gebroke harte!
Ons vra vergifnis vir ons sondige, hooghartige lewenstyle wat ons as kinders van God leef.
Here, U weet, ek praat nie nou van geld en status, of selfs van wêreldse opgehewe lewenstyle nie…
Nee, Here, ek praat van ons innerlike wese as kind van God, of soos u Woord sê, heiliges.
Ons wat met ons harte glo en met ons monde bely dat ons u kinders is.
Ons wat gered en weergebore is, Here Jesus, hoe is dit gesteld met ons gees?
Getuig ons gees saam met God se Gees, dat ons U alleen in ons daaglikse lewenswandel behaag?

Vader, is U enigsins trots op ons? Kan U vandag, nou, na u kinders kyk, en sê, “díe kind is ‘n kind so na my hart”! Here, ons wat in u bediening staan, ons wat geroep is om leraars, herders, opsieners, diakens, ouderlinge, evangeliste, dienaars, bidders…. te wees,
Waar is hulle, as hulle nie saam met ‘n paar van u kinders kom bid, by die gebedsgeleenthede nie?  Here hoekom verwaarloos ons dit?  Hoekom is ons so laks en lui?
Here Jesus, so het ek weer die Bergpredikasie gelees en gesien ons moet nie oordeel nie Here, maar weet ek my hart is stukkend want ons bid, maar ons het nie, en vir my beteken dit net dat ons toelaat dat die sielevyand van ons steel – omdat ons hom toelaat!
Here my God, vergewe ons ons laksheid en luiheid en versterk ons met die sterkte  van u krag. Laat elke kind van U kies om terug te keer na hul Eerste Liefde!
Dankie, Here my God vir u liefde, genade, en ook u geduld met ons.

Mag ons eendag beproefd voor U staan, as deelnemers aan ‘n wedloop wat die wedloop tot u eer en verheerliking kon voltooi het. Mag ons eendag opkyk in u glinsterende, heilige aangesig en trots wees, omdat ons sal weet ons staan met ‘n rein hart en gewete voor U, want ons het u wil volbring. Dan sal ons weet, dat dit God-behaaglik is dat ons soos Jesus Christus, ten bloede toe geworstel het teen die sonde en die sielevyand.
Mag Jesus se lyding en redding weerspieël word in elke weergebore kind van God se lewe!
In Jesus Naam, Amen.

Steeds gebroke – die hart van gebed.

2017-06-22
09:05

Here, o Here, my God! Vandag is die hart nog meer gebroke!  Ek lees uit Jeremia 7, en ek sien dat ons doen presies wat die kinders van Juda gedoen het – dit wat verkeerd was in die oë van die Here.
Ek ween, ek ween vir  u kinders, o Here. Ek roep U aan soos die Psalmis; ek vra en smeek dat U ons sal verlos, want die waters het tot by die siel gekom. Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God.

U leer ons uit u Woord, dat u huis ‘n huis van gebed sal wees. Dat ons U sal aanbid in u huis, maar ons spreek bedrieglike woorde en noem u huis die Here se tempel, die Here se tempel! Maar ons bid nie in die Here se tempel nie! Dit is voorwaar ‘n rowerspelonk. Ons, Here God, maak dit ‘n rowerspelonk, want ons wat u kinders is, laat toe dat die sielevyand inkom en roof, en moor en verwoes!
U woord gee dit name soos: bedrieglike woorde wat nie baat nie, steel, doodslaan, owerspel, vals sweer, offerrook vir Baäl, agter ander gode aanloop – en dan sê u Woord ons doen hierdie dinge en dan kom ons in U huis (van gebed) voor u aangesig waaroor u Naam uitgeroep is en sê: Ons is verlos! – om al hierdie gruwels te doen? (Jer. 7)

“Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ‘n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek – kyk, Ek het dit gesien, spreek die Here.”
O, Here my God, laat ons tog hoor wanneer U praat! Doen ons dan dieselfde? Here, my siel ween, want die ywer vir u huis van gebed, verteer my.  Die smaadhede van die wat U smaad het op my geval.
Daarom o Here, is my gebed tot U!  Hoor die smeekgeroep van u kinders wat U met hulle hele wese diensbaar wil wees. Here, grawe ons ore om te hoor! Maak ons harte van klip en selftevredenheid, harte van vlees, sag en ontvanklik om die Heilige Gees op vrugbare grond te laat werk.

Wek in u kind die begeerte om te bid. Neem asseblief die selfverheffing in ons harte weg. Salf ons hoofde met die salwing van Aäron, wat afloop op ons ken, ons bors, tot op ons voete, sodat u kind ‘n seën vir U mag wees.
Laat ons die laaste tyd vrugbaar uitkoop, om eerder te bid as om mooi praatjies, en die weeklikse nuus en gebeure te deel wanneer ons die onderlinge byeenkomste bywoon. Laat die vreemde asook u kinders, sien wanneer hy die tempelpoorte betree dat díe waarlik ‘n huis van gebed is.

Here, my God, laat ons nie ons eie gewete streel en sus, en maar gelate aanvaar dat ek myself christelik opvoed deur slegs twee maal ‘n week saam met u ander kinders byeen te kom om U te aanbid – en dan word daar nie eers gebid nie, maar met ‘n vriendelike glimlag die mense gegroet en geklets – in plaas van eerder saam bid!
Saam BID!
Sodat ons nie die moordenaars in die rowerspelonk word nie. Sodat u kinders U kan aanroep met smeekbede vir die verlore siele. Sodat u koninkryk uitgebou kan word. Sodat u kinders kan terugkeer na hul eerste liefde. My Here, my God, my siel roep uit na U! Skud ons wakker!

Dierbare Vader, ek roep U aan, hoor u kinders se roepstem!
Laat ons nie wees soos U ons in 2 Tim 3 waarsku nie!  Help ons dat ons nie kinders sal wees wat maar net ‘n gedaante van godsaligheid het nie, maar die krag daarvan verloor het, omdat ons meer liefhebbers van genot geword het as liefhebbers van God. Vader, daarom is my gebed vandag tot U, o Here, in die tyd van genade, o God, verhoor u kind deur die grootheid van u goedertierenheid, deur die trou van u heil.

Kind van God, hoor dan vandag die Woord van die Here, jy wat deur die tempelpoorte ingaan om Hom, die Here jou God te aanbid. Maak julle weë en julle handelinge goed, dat die Here God ons kan laat woon in die huis van gebed, sodat die Vader van ons heil, nie sal doen wat Hy sê in Jeremia 7 nie!
Laat ons dan soos Koning Asa die Here onse God aanroep: “Here niemand kan help soos U tussen die magtige en kragtelose nie; help ons, Here onse God, want op U steun ons, en in U Naam het ons teen hierdie menigte gekom, Here, U is onse God, laat geen sterfling naas U magtig wees nie.”

Ons wil die Naam van God prys met ‘n lied en Hom grootmaak met danksegging.
As die ootmoediges dit sien, sal hulle bly wees, julle wat na God soek, laat julle hart lewe!
Amen!

 

Virus-free. www.avg.com

 

 

Virus-free. www.avg.com

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.