Doelwit


Wat gaan jy doen?

Vandag vra ek aan ons Hemelse Vader: “Wat is my doel?”

Sien, ek het vir soveel jaar lank rond gedobber met geen visie in die lewe nie. Het soos die meeste mense maar, opgestaan… werk… slaap. Naweke tyd vermors op nietighede. Dans…hou partytjies… word dronk…kuier saam met vriende wat dieselfde nuttelose losbandige lewe lei. Jy is van so min belang dat selfs julle huwelik begin uitmekaar val en jy lieg vir jouself om te sê jou lewe is fantasties. Jou kinders is rebels en opstandig. Jou vriende beskinder jou en jou familie verag jou.

Tot eendag dat God jou op jou knieë dwing…

Skielik sien jy jou huwelik weer vir die Godgegewe geskenk wat dit is. Skielik sien jy jou kinders vir die Godgegewe skat wat hulle is. Belangriker nog… jy besef die gawe van die lewe.

Ons is deur God geskape met ‘n plan. Ons is nie nietig en van geen belang nie. God het die plan, die doel vir ons gehad reeds voor Hy ons geskape het.

Spr 19:21  Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.

Pro 19:21  There are many devices in a man’s heart; nevertheless the counsel of the LORD, that shall stand.

Maar party mense is tevrede om rond te dobber met geen doel. Ons verander onsself in niks deur gehoorsaamheid aan Satan en sy magte. Ons gee so oor aan die vleeslike begeertes(sondes)  dat ons daarvoor lewe sonder om eenkeer te vra of daar nie dalk meer is aan die lewe nie. En al vra ons onsself hierdie vrae, is dit selde dat ons die antwoorde soek. Daar is ook diegene wat die antwoorde in die gesig staar en steeds weier om iets daaraan te doen.

Ons bou voort op ons eie planne en verspil ons eie tyd. Want sien soos geskrywe, sal God se se doel/raad steeds staande bly. Verhard en ingekeer in onsself is soveel van ons oppad na die ewige verderf.

Mat 13:41  die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, (42) en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Tevrede met ons sondige en losbandige lewe, of doodeenvoudig net verblind of selfs te lui, ploeter ons voort.  Eendag vul ons ons grafte met verlore talente. Talente wat nooit ontgin is nie. In jou graf lê dalk boeke… praatjies… en baie meer. Jy was dalk ‘n persoon wat menige siele na God kon lei. Maar jy het verkies om op aarde net asem te haal. Jy mag dalk glo jy lewe voluit. Jy dans, drink, doen alles en geniet jou terdeë. Dolle gejaag na niks vervullends nie. Vriende kom en gaan. En op die ou end sterf jy en kom te staan voor die lewende God! Waarmee gaan jy voor God staan?

‘n Graf vol talente begrawe onder die grond? Nooit ‘n ander mens bereik omdat jy nooit jou lewensverhaal geskryf het nie?  Sonder enige siel omdat jy die doel van jou lewe verruil het vir plesier wat net ‘n paar oomblikke bevredig?

Dit wat God vir jou beplan het…  wil jy weet wat dit is?

Waarom wag jy nog? Dink jy, jy moet eers heilig leef voor jy na Jesus kan kom vir redding?

Luk 5:32  Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

Dalk is jy een van daardie wat dink ons kan in die hemel in gesondagskool / kinderkrans of gekerk word.

Rom 3:23 Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God

Wat ookal, moenie dat Satan jou beroof van die geseënde doeltreffende lewe wat God vir jou beplan nie.

Die gemiddelde lewensverwagting is sewentig jaar.  As jy veertig is, is jy reeds verby die helfte.  Hoe lank wil jy nog wag? Uitstel lei na die hel, ‘n werklike plek, of jy dit glo of nie!

Waarom is daar mense wat al hierdie dinge weet, besef en aanvaar, maar steeds hul rug op God draai?

Wat gaan jy vandag doen met jou lewe?

Gaan jy God soek? Of braai jy liewers?

 

Hiermee die tweede artikel oor ons doelwit.

Ek bid dat die wat op hulle knieë beland het, daar sal bly voor ons hemelse Vader. Daar bely ons en ontvang bevryding en God neem ons aan as Sy kinders. Dan vra ons weer die vraag: “Wat is my doel?”

Spr 19:21  Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.

Pro 19:21  There are many devices in a man’s heart; nevertheless the counsel of the LORD, that shall stand.

Hierdie vers het soveel betekenis. Ons eie planne kan bes moontlik net ons tyd mors. God het, soos in die eerste artikel beskryf, sy doel met ons, beplan voor ons geboorte. As ongereddes was ons soekend na ons skeppingsdoel, naamlik om Jesus te dien. Nou as gereddes is ons steeds soekend.  Na die wil van God.

Kom ek maak ‘n kort vergelyking. ‘n Koffiebeker kan oor die algemeen 250ml inhoud bevat. Wanneer jy koek bak en jy 250ml melk benodig, kan jy die koffiebeker gebruik. Hy werk 100%. Geen fout daarmee nie. Alhoewel hy deur die vervaardiger vervaardig is spesifiek vir koffie. Jy kan ook tee in hom maak, maar dis steeds nie ‘n teekoppie nie. Die maatbeker weer is spesifiek vervaardig om presiese mates af te meet.

As kinders van God is ons almal herskape / vervaardig met ‘n spesifieke doel. Jy is of ‘n Johannes, Paulus, Petrus of Jakobus… Die probleem is dat jy dalk besig om Johannes se werk te doen, terwyl God jou ‘n Jakobus geskape het.

Ons moet werklik ernstig by ons Vader gaan pleit om aan ons duidelikheid te gee wat Hy vir ons beplan het. Ons moet versigtig wees dat ons as Christene nie dalk self met propvol grafte gaan sit nie, met talente wat begrawe is nie.

Baie kinders van die Here dobber bloot aan. ‘n Visserman sal vir jou sê dat ‘n visstok van geen nut is as hy nie toegerus is met vislyn, ‘n katrol en aas nie. En ook ingegooi is nie. Dit is sy doel.

Ons predikant het onlangs die volgende Bybelvers aangehaal. Dit het my baie laat nadink.

Luk 10:41  Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; (42)  maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.

Met die klem op ‘een ding is nodig’.

Jesus het sy dissipels twee, twee uitgestuur. Waarom? Hulle het mekaar aangevul. Die een was moontlik ‘n spreker en die ander ‘n bidder.

Is ons nie dikwels besig met so baie dinge dat ons nie agterkom wie ons eintlik bedoel is om te wees nie?

Dan vra ek my Heer weer:  “Wat is my doel?”

Weet jy wie jy is?  Is jy ‘n Jakobus?  ‘n Petrus dalk?

Kom ons keer vlugtig terug na die tweede gedeelte van Doelwit…

Luk 10:41  Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; (42)  maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.

Wanneer ons duidelikheid vanaf die Heilige Gees ontvang het oor daardie een ding wat God vir ons in plan het kan ons nou fokus daarop.

Ons stel ons visie in op daardie prioriteitsdoelwit. Nodeloos om te sê dat ons dissipels moet wees. Maar ons moet ons fokus daarop hou. Dit is duidelik uit die Woord van God dat ons een groot opdrag ontvang het wat absoluut nodig is om hierdie doelwit te bereik.

Efe 6:10  Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.

Ons is nie instaat om uit onsself enigiets te doen vir die koninkryk van God nie. Daarom is dit belangrik om gefokus te bly, te groei en kragtig te word in Christus. As ons hierdie opdrag versuim, sal die sielevyand bo-oor ons loop.

Ons kan al die kennis in die wêreld hê en dit beteken niks.  Ons het wysheid nodig. Sien, wysheid is kennis wat toegepas word. Kom ons gaan doen so bietjie ondersoek na die krag waarvan gepraat word.

Wysheid is een van die grootste kragte wat Jesus ons gee. Ons moet soek na hierdie wysheid en nooit ophou nie.  Vir solank as wat ons leef, sal ons bly leer.

2 Pet 3:18  Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.

Dis duidelik dat ons moet toeneem in wysheid.  Daarin is die krag van God.

1 Kor 2:5  sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. (24)  maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.

Luk 21:15  Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.

Met wysheid kan ons enige bose aanvalle op ons lewe beveg. Kennis sonder wysheid is egter dood. Ek wil graag hier halt roep vir nou. Gaan gerus en toets jou kennis en bedink ernstig of jy wysheid het en waar jou tekortkominge is.

Ek herhaal: ‘Wysheid is kennis, verstaan, toegepas’.

Kyk uit vir die volgende artikel waarin ek bietjie verder gaan vertel oor die krag wat God tot ons beskikking stel.

Hoe heerlik om hierdie dinge te kan behandel.

Kom ons gaan bietjie terug op ons spoor. In my vorige Doelwitartikels het ons eerstens bekering en visie/roeping behandel. Daarna het ons gekyk na die gereedskap vir ons roeping.

Die tweede krag/wapen beskikbaar vir ons om die goeie stryd aan te sê, sowel as om staande te bly midde verdrukking en baie belangrik, om kragtig te word vir Christus, is …. LIEFDE!!!

Laat ek eers iets vlugtig verduidelik. In die Ou Testament is dit hoofsaaklik die Verbondsgod wat werksaam is, asook die belofte van die Messias. In die Evangelies vind ons Jesus se aardse bediening. Voor sy hemelvaart het die Heilige Gees belowe. In die laaste dae wat begin het by Pinkster na Jesus se hemelvaart tot hede is dit die Heilige Gees wat op aarde werksaam is.

Ingewikkeld: Jesus red, God die Vader rig ons op en maak aan ons, ons doelwit bekend en die Heilige Gees rus ons toe met die nodige krag.

1 Jhn 2:20 En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. (27) En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.

(KJV)  But the anointing which ye have received of Him abideth in you, and ye need not that any man teach you: but as the same anointing teacheth you of all things, and is truth, and is no lie, and even as it hath taught you, ye shall abide in Him.

Hier word gepraat van Christus wat deur die Heilige Gees ons alles leer en gee wat nodig is. Ons weet dat Jesus aan sy dissipels gesê het dat die Heilige Gees hulle alles sal leer en hulle toerus, maar dat dit vanuit Jesus Christus sal kom.

Dan verwys ek ook na 1 Kor 12:9,10  En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.

God  is ons krag, en sy liefde in ons, gee ons die krag van liefde.

Efe 3:19  en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

1 Kor 14:1  Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer.

1 Kor 16:14  Laat alles by julle in liefde geskied.

“Need I say more?”

Die volgende aspek van die krag wat ons Hemelse Vader tot ons beskikking stel is… geloof!

Ons lewe ongelukkig in ‘n wêreld waar baie mense nie ‘n idée het wat geloof werklik is nie. Dit word meestal glad nie verstaan nie en soms heeltemal misbruik. Dikwels lei dit tot teleurstelling en bitterheid.

Ek weet van ‘n ateis wat ‘n hele paar jaar gelede God versoek het. Hy het nooit geglo nie en toe sy geliefde baba hondjies almal siek geword het, het hy ‘n kans gevat en vir God gesê(gebid) as Hy werklik bestaan moet Hy die hondjies gesond maak. Die hondjies het almal doodgegaan en die ateis was so kwaad, hy het die Bybel in die sand rondgeskop en verbrand. Hy is net daarna self oorlede.

Ons moet nooit dink dat geloof net is: Vra God wanneer ons iets wil hê en hoop dan dat Hy dit sal gee.

Of

Daar is nooit ‘n ‘as’ in ons geloof/gebede nie.

Of

Vra en sê ons glo, maar dan wag ons nie vir God se antwoord nie, ons gaan in elk geval voort en handel volgens ons eie denke.

Nog belangriker … geloof sonder werke is dood.

Jak 2:20  Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?

Al hierdie kragte is onlosmaakbaar aan mekaar gekoppel. Elke krag bring sy eie vrug voort. Geloof is hoop op dit wat ons nie kan sien nie. Visie is ons drome/hoop wat ons nie kan sien met die oog nie.

2 Kor 5:7  (AOV)Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. (KJV) For we walk by faith, not by sight:

Nou kan ons begin verstaan waarom ons ‘n visie moet hê. Ons visie sal dan ook vir ons die baan weg.

Spr 18:16 (AOV) a)Die geskenk b)van iemand maak vir hom ruimte en c)bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.  (KJV)  a)A man’s gift b)maketh room for him, c)and bringeth him before great men.

Kom ons kyk na die vers in meer detail.

  1. A)geskenk/gift – is ons visie /doel/gawe wat God elkeen gegee het.
  2. B) Maak vir hom ruimte/ maketh room for him – Ons doel sal sy eie weg baan (Belofte van God)
  3. C) Belofte van sukses.

Geloof is dus ons skeppingsdoel in wording. Ons visie wat in ons geplaas is deur ons Skepper. En deur ons gesoek en ontdek en ontgin word. Dis ons werke nadat ons tot geloof gekom het. Dis die geblinddoekte wedloop gelei deur die Heilige Gees. Dis algehele gehoorsaamheid.

Rom 16:26  maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die geloof

 Dis so wonderlik om te kan verstaan dat ons hemelse Vader reeds in Genesis aan ons mensdom die mag op aarde gegee het, maar met die sondeval is hierdie outoriteit aan die bose oorgegee.

God bekragtig ons met sy krag. Maar mense gebruik dit nie. Of in baie gevalle gee mense moed op want niks gebeur nie. Daarom dat mense ook nie by bidure opdaag nie. ‘n Prediker het dit baie mooi verduidelik.  Ek gaan probeer om dit te herhaal, want beter kan ek dit nie stel nie.

Jesus se dissipels het Hom vir drie en ‘n half jaar gevolg.  Hy was hulle Rabbi wat beteken hulle moes Hom mimiek.  In hierdie volle drie en half jaar het hulle baie wonderwerke aanskou.  Jesus het net ‘n woord gespreek en die blinde sien, nog ‘n minuut se woord en die verlamde loop.  Vir die duiwels net gesê: ’Uit” en hulle het gegaan.  Geen moeite.  Die dissipels probeer vir ure die duiwels uit ‘n jong seun jaag en niks gebeur nie.  Jesus sê bring hom na My.  Jesus sê net ‘n woord en die duiwel verlaat die seun.

Die dissipels moes uiteraard Jesus baie goed dophou en hulle het die oplossing vir hulleself ontdek.  Hulle het logies geredeneer. Daarom dat hulle in hierdie drie en halwe jaar Jesus net een ding gevra:

‘LEER ONS BID’

Nie, leer ons genesing of om duiwels uit te dryf nie.

Net dit!  Leer ons bid.

Jesus het vroeg voor dagbreek daagliks reeds gaan bid. So Hy moes maklik drie tot vier ure aan gebed spandeer het. En die dissipels kon nie anders as om dit raak te sien nie.

‘If you spend a hour with God you’ll spend a minute with man, but if you spend a minute with God, you’ll spend a hour with man.’

Hulle moes sekerlik gedink het: Ons Rabbi spandeer ure aan gebed en net ‘n minuut aan wonderwerke.  Dus moet gebed die antwoord wees.

Jesus sê aan sy dissipels: ‘Wanneer julle bid… nie ‘as’ nie.  Dit is nie opsioneel nie. Dis algemeen aanvaar dat kinders van God sal bid.

Luk 11:9  En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Ja, natuurlik sal ons almal sê ons bid. Maar ons bid dikwels nie genoeg nie.

Mar 14:38  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Efe 6:18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges

Wanneer mense ophou bid, hou God op werk.

Dis so belangrik om te bid. Dis waar ons met al hierdie kragte wat God ons gee, bekragtig word. Dis wanneer ons geestelik groei. Dis wanneer ‘n huwelik werk (A couple that prays together, stays together). Dis wanneer gesinne in liefde en harmonie leef. Dis wanneer gemeentes groei in die krag van Christus.

Gebed is die kern van alle dinge!

“Make us a house of prayer”

Jer 48:10  Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen; ja, vervloek is hy wat sy swaard van bloed terughou!

In my vorige artikel oor Doelwit, het ek gebed behandel. Ek wil graag gebed die heeltyd op die voorgrond hou.

Ons word beveel deur God ons Hemelse Vader om sekere dinge te doen. Om maar net ‘n paar te noem:

1 Pet 1:16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig

Heb 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie

1Kor 15:34  Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.

Kol 1:28  Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel;

Mat 10:8  Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Mar 13:33  Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.

Wanneer ons as kinders van God nie God se bevele gehoorsaam nie…  sit ons dan nie maar as’t ware ons wapens, ons kragte uit God se hand weer neer nie? Kan ons dan nog ons Vader behaag?

Open 3:15,16  Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

Dis uiters belangrik om altyd in gebed te bly om staande te kan bly. Wanneer ons ons doelwit wat God vir ons in gedagte het, besef en ons ons visie daarop stel, moet ons dit beplan en na God gaan met ons planne.

Ons kan God in gebed bly vra om hulp. Maar hulp waarmee? Weet jy? Het jy ‘n plan?

Onthou dat jou visie net van God af kom as dit is om sy koninkryk te bevorder. As ander daarby sal baat vind.  Dis nooit eie gewin, eie ambisie nie.

Efe 1:11(AOV)  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

(KJV)  In Whom also we have obtained an inheritance, being predestinated according to the purpose of Him who worketh all things after the counsel of his own will:

Kom met jou plan na God. Hy sal jou pad vir jou uitwerk.

Spr 16:3 (AOV)  Laat jou werke aan die HERE oor, dan sal jou planne uitgevoer word.

(KJV)  Commit thy works unto the LORD, and thy thoughts shall be established.

Spr 16:9 (AOV)  Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe.

(KJV)  A man’s heart deviseth his way: but the LORD directeth his steps.

Ons moet ook besef dat elke individu deel is van God se groter plan. Wat geld vir elke individu, geld ook vir elke gemeente, vir die ware Kerk van Christus(wêreldwyd). Ons is nie nietig nie.  God het alles geskape, mens en dier, plant en boom, met ‘n spesifieke doel. Ons kan egter die antwoorde alleenlik by God kry.  In gebed!

1 Pet 1:15-19  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

Ons is kosbaar vir God!  Wat doen ons vir Hom? Ons plan kan en sal alleenlik deur God geseën en gerig word wanneer ons in volkome gehoorsaamheid en geregtigheid leef vir Christus. Heiligmaking, geregtigheid en gebed loop hand aan hand en is sekerlik van ons grootste kragte.

Luk 18:7  Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

Laat ons dan so wandel.

Ek sluit hierdie reeks af met die laaste krag wat ek wil hanteer.  Blydskap!

Ek moet eerlik sê dat dit vir my baie moeilik is om hierdie een te behandel.  Ek is van nature ‘n positiewe mens.  Wanneer die lewe druk, beskou ek dit as ‘n uitdaging.  Ek pak dit aan met ‘n soort lekkerkry…lus vir…uitdaging.  Miskien ook omdat ek bitter min hartseer en pyn en lyding tans in my lewe het.  Op die oomblik bestaan my lewe uit blydskap en vreugde.

Daar was egter ‘n tyd wat negatiewiteit my lewe oorheers het.  En die afwesigheid van God se liefde in my lewe was die oorsaak. Daarom gaan ek so ‘n bietjie persoonliker afsluit.  Uit eie ondervinding kan ek getuig dat wanneer ons nie God as Heerser en Meester in ons lewe het nie, daar nie blydskap is nie.  Wanneer ons onder die valse indruk verkeer dat onsself in beheer is van ons lewens, maak ons gewoonlik ‘n gemors daarvan.

Dit was dan ook die tyd toe ek my blydskap in God vind.  Sien, al val die wêreld rondom jou uitmekaar, kan jy vreugde vind in God.  Hy dra deur alles.

Satan haat blydskap en vreugde en vrede.  Daarom dat hy jou eerstens aanval in jou verhouding met God. Jou stiltetyd sal korter en minder word, totdat daar niks meer is nie.  Hy val jou aan deur jou geliefdes, wederhelftes, kinders, ouers en ander mense naby jou. Verhoudinge word versuur om jou te beroof van jou blydskap. Wanneer twis onnodig opgesweep word, dan begin ek gewoonlik sing en die persoon wat skoorsoek, kry ‘n drukkie gegee en ek sê sommer:  “Ek is lief vir jou,  moenie lelik wees nie.  Kom ons gesels rustig.”

Blydskap is ‘n kragtige wapen waarmee ons die aanslae van die sielevyand kan teëstaan. Wanneer neerslagtigheid aan jou voete hang, sing lofliedere. Hierdie is ‘n krag wat aan ons voorsien is. Dis moeilik vir mense rondom jou om ongelukkig te bly in die blydskap van die Here wat uit jou straal.

Kol 1:11  en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap,

Kom ons verbly ons dus in Christus.  Ons word bekragtig en vertrou dat die wêreld deur ons Jesus se liefde sal ervaar en daarna soek.

‘n Prediker het eenmaal gesê: “Gaan verkondig die Evangelie en as dit nodig is, gebruik woorde!”

Janine Visagie

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.