Die Wapenrusting van God – Pinkster 2017 2


04-06-2017

Wat ‘n heerlike oggend. Alhoewel winter het ons ‘n heerlike warm, amper lente daggie. Te oordeel aan die groen grasperke oral, het die winter nog nie sy merk gelos nie.

Vroeg reeds maak Jesus my wakker. Terwyl ek in die stilte van die oggend lê en gesels met Jesus kom die siele vyand en torring aan my gedagtes met gemors. Ou dinge wat lankal vergete en vergewe is. Dan vra ek Jesus om dit weg te neem, ek wil met Hom gesels en so gesels ons. Ek sluimer weer in. Na ‘n wyle is ek weer wakker.  Weer die sielevyand.  ‘Ag mensig tog’ dink ek. Vir wat kom hierdie gemors tog so ontydig by my op. Gelukkig word my man ook wakker en is ek dankbaar vir ‘n koppie stomende boeretroos. Ons gesels oor die dienste en al die pyne en skete wat ons die vorige aand mee gestoei het.

Vol verwagtinge en baie opgewonde is dit uiteindelik tyd vir kerk. Die hele week reeds bid ek vir die Pinksterdienste. By die kerk gekom, moet ek myself net beteuel of ek huppel daarin in plaas van loop. En dis toe soveel meer as wat ek verwag het.

Dr.Andrè Bester lei die diens, en is sowaar ‘n prediker,  is ek seker van, ‘n man so na God se hart! Natuurlik maak dit vir my sin dat die Skriflesing vanuit Efe 6 sal wees. Die Wapenrusting van God.

So lekker om toe van vooraf te verstaan dat deur wedergeboorte ons die volle wapenrusting van God aantrek.  Eens en vir altyd. Daarna neem ons dit daagliks op om staande te bly teen die aanslae van die vyand. Ook om die stryd aan te pak.

Om staande te bly moet ons eerstens bekleed wees met die wapenrusting van God.

Ons moet altyd waaksaam en nugter wees.

Ons moet ‘n algehele oorgawe aan God maak.

Ons moet op God vetrou met al ons krag.

En toe gee die prediker hierdie Skrif ook.  2 Kor 10:3-5.   Vers 5 vat my toe vas.

“Terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, EN ELKE GEDAGTE GEVANGE NEEM TOT DIE GEHOORSAAMHEID AAN CHRISTUS.”

Ons gedagtes moet vol wees van God se dinge.

‘Needless to say’  ek kan nie wag vir die res van die reeks dienste nie.

05-06-2017

Tuis gekom na gister se aanddiens kon ek net nie stil raak nie.  Ek het meer energie gehad as wat my sisteem kon hanteer.  Het toe maar my man se ore gedaan geklets.

Die seëninge wat ons in die aanddiens ontvang het is onbeskryflik.

Die helm van verlossing en borswapen van geregtigheid is behandel.

Hoe ons posisie van duisternis na die lig verander na wedergeboorte…  en hoe ons bevry en bewaar word deur die helm van verlossing.  Wat natuurlik Jesus bloed alleen is, wat dit bewerkstellig.    Dis net te wonderlik.

Ook wat baie vasgegryp het was dat die sielevyand gewoonlik eerste ons gedagtes aanval.  Ek glo almal ondervind dit op ‘n daaglikse basis.  Dit lei weer na ons emosies wat aangeval word.  En voor jy jou kry, is jy op ‘n ‘rollercoaster ride’  …negatiewe gedagtes… negatiewe emosies… verhoudings probleme… depressie…

Daarom so belangrik om ons hart en gedagtes te beskerm.

En die lekkerste was die uitnodiging vir gebed.  O, hoe heerlik!!  Wanneer ons as heiliges so saam kan bid en sommer as familie saam, met ons Vader kan praat.  Gebed is so spesiaal en uiters belangrik in hierdie Geestelike oorlogvoering wat ons onsself in bevind.  Lekker man…

Groot vraag!!  Hoe bly ons staande?  Ek neem aan ons sal vanaand meer uitvind.

Ek kan sommer sien Dr. Bester is self so opgewonde oor die reeks.  Hy lyk amper asof hy dit geniet om ons te laat wag en wonder.  Nie werklik regverdig nie.  Ek is maar ‘n ou agie…

Geduldig wag ons…

06-06-2017

En toe is Dr Andrè byna laat.  Ag dit pla my toe mos min.  Nog ‘n bietjie sing is net heerlik.  Ons kan gerus maar nog vroeër begin sing.

Nogtans dankbaar toe Dr. Andrè arriveer.  My geduld is al op.  Ek wil meer weet.  En toe sing ons eers my gunsteling lied.  Majesty!  Hoe lieflik die woorde.  Natuurlik, simpel ek sit toe met ‘n suig ‘sweet’ in my mond.

Sal my leer om ‘sweets’ te sit en eet in die kerk.

Uiteindelik begin die diens.  Na ‘n lang dag en baie afwagting stel die prediker nie teleur nie.

AAAH!  DIE WAARHEID!!!   Omgord jou lendene met die waarheid.

Ek wag daarvoor dat hy gaan noem dat die Romeine destyds hierdie gordel nooit verwyder het nie.  Selfs nie as hulle slaap nie.  Al het hulle nie die res van die uitrusting aangehad nie was die gordel in plek.  En aan die gordel was altyd die dolk en swaard.(Gereed vir aanval)

Maar hy noem dit toe nou nie.  Wat hy wel toe noem is dat hierdie gordel die uitrusting stewig vasgehou het sodat die soldaat staande kan bly.

O ja,  die Waarheid is sekerlik die belangrikste.  Ons hele lewe en wese moet gebasseer wees op die Waarheid.

En natuurlik hol my kop mos altyd met my weg, en daar gaan hy toe.  Ek dink toe.  Hiedie gordel het ook die soldate se toekomsplanne beskerm.  M.a.w. sy nageslag.  Dan beskerm hierdie gordel van Waarheid ook ons nageslagte.  Jou kinders moet in Waarheid grootgemaak word.  Maar nou ja,  terug diens toe voor my kop alweer weghol.

Ja ek skryf of tik altans die woord “Waarheid” met ‘n hoofletter.

Want God is waarheid!  Algehele waarheid!  Joh 1:1 In teenstelling met Satan wat algeheel leuens is.  Hy is die vader van leuens.  Jy kan daarop staat maak dat enige iets wat in jou gedagtes opkom wat nie in lyn is met God se Woord nie dit heelwaarskynlik van satan af kom of jou eie gedagtes is.

Hierdeur is ons al…

Ons gedagtes moet vol wees van die dinge daarbo.

Ons moet vashou aan die Waarheid.

Ps 119:9 en11 Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U woord.

Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

 

En oe lekker.  Het dit al raak gelees maar nog nooit so daaraan gedink nie.

Jesus is die beliggaming van die Waarheid.

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Let op op die laaste woord – waarheid.

En dan sluit ek af met die woorde uit die prediker se mond:

“Waarheid liewend, Waarheid lewend”

07-06-2017

Is julle al nuuskierig oor wat ek te sê het oor gisteraand se diens?

 

Ek is eerlik vandag.  Dis vir my moeilik om te skryf, ag ek meen tik…

 

Sien ek kry dit nie reg om stil te sit nie.

Kom ek verduidelik.

Gisteraand tuis gekom duik ek my man amper onderstebo van lawwigheid.  Ek maak bollemakiesie op die bed.  Huppel rond.  Ek kan nie loop nie.  Dis net te stadig vir my.

En ek praat of miskien eerder sê, babbel aanmekaar.  Hy sit met ‘n ‘smile’ op sy gesig.  Ek dog dis oor die diens vir hom ook ‘amazing’ is(glo my hy het sekerlik die hele diens by my gehoor).  Nee hy ‘smile’ toe oor my opgewondenheid.

Ek het hom nie kat se kans gegee om iets te sê nie.

 

Vanoggend sing ek heeltyd: “Hy is die ene wat ek liefhet in die more”

Julle ken die lied…

 

Ek steek my man aan.  Hy sing seker die enigste lied wat hy halfpad ken:  Dis so lekker om die Here te dien.

 

Ek wil stil word voor God.  Wil bid.  Dis ‘n ‘struggle’  My hele wese wil juig en jubel en dans en lofsang sing voor die Heer.

Ek is buite my vel!!!  As ek terug klim hoop ek my vel is deurdrenk met Jesus en vol Bybelversies.  Want ek wil die Woord ken.

 

Geloof is oor gepreek.

Heb 11:1 verduidelik toe alles

Heb 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

 

Weet mos, daar hol my kop toe.  Ons is almal met ‘n ingebore natuurlike hunkering gebore om te aanbid.  Dis ons skeppings, ek wil my verstout om te sê, karakter.  Ons kan nie anders nie.  Ons wil ons neerbuig.  God het ons geskape om Hom te behaag en aanbid.  Maar die mens jaag die duisternis na.  O ja, sonde is lekker.  Die sielevyand sal jou die pad hel toe laat voel of jy oppad hemel toe is.  So, mense aanbid afgode!  Rykdom, drank, dwelms, hulleself ens…  soekend…

Dis Jesus waarna hulle soek, maar hulle is verblind, verhard.

Vir die wat geloof in God het hoef ek niks daarvan te sê nie, want julle weet!

Vir die wat nog nie geloof in God ontdek het nie,  kry dit!!!  Soek dit!!!

Gaan lees gerus die post oor ‘Hoop en vertroue’.

 

Mensies,  hartseer maar vanaand is die laaste Pinkster diens vir die jaar.  Ons is deur die gordel, helm, skild en borswapen. (Almal as beskerming en afwering van die bose aanslae)

Vanaand neem ek aan sal die swaard en skoene wees.  Beloof om besonders te wees.

Sien julle daar!

07-06-2017 aand

En die dienste is klaar.  Dis ‘n soete bitter… Sou graag nog ‘n paar aande wou dienste hê.  Maar ‘n soete vreugde wat nagelaat is.  Blywend sal die geur wees.

 

Dr. Andrè sluit af met die skoene en die swaard soos verwag.

 

Ons staan eers toe bietjie vas by die skoene van bereidheid van die Evangelie van vrede.  Interresant dat hy dit toe so duidelik uitwys dat dit die Evangelie is van VREDE!

Ons is vredemakers.  Die kinders van God kan nie onder die selfde juk as die ongelowiges nie.  Vrede, nie net in ons gesindheid nie maar ook in ons harte.

 

Enige soekende siel sal vrede vind by Jesus.

Dr. Andrè deel met ons sy getuienis van bekering.  Wens ek kan die hele getuienis woord vir woord neerlê.  Hoeveel mense vasgevang in depressie het hierdie Evangelie van vrede nodig.

 

Jes 9:5  Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—

Jes 9:6  tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.

 

Vrede in ons verhoudings.  Selfs in donker tye sal ons vrede ervaar.

 

Ek stap juis uit die kerk vanaand.  Nadat ek my ma tuis besorg het kry ek so snaakse gevoel, iets is fout.  Ek gesels so met die Here en vra wat kan dit nou wees.  Ek haal my foon uit en sien my man soek my dringend.  Hy weet ek is in die kerk.  Hy sou my nie skakel nie tensy daar fout is.  Onmiddelik pak ‘n vrees my.  Ek bestuur, so oop oë hardop vra ek die Here om vrede in my hart te bring.

 

Onmiddelik neem die vrees die wyk.

Skakel my man.  Kragboks het in sy gesig ontplof.  Hy is gelukkig fine.  Het net dringend ‘n elektrisiën se nr nodig gehad.  Ek dank ons Vader.  Dit kon soveel erger wees.  En onmiddelik kom dit by my op.  So vinnig kan iets ernstig plaasvind.  Mens kan so maklik jou lewe verloor.  Waar maak jy jou oë oop in die ewigheid.

Ons moet tog seker wees.

 

Terug na die diens.

 

En toe sê Dr. Andrè net mooi die teenoorgestelde.  Maak hy my ogies oop.  Sien ek is een van die mense wat die swaard as die een item beskou het as aanvallend.  Ons is soldate…. Pasop Satan!!!

Ai.  En daar leer ek iets baie besonder.  Die swaard is steeds vir afwering.  Weerstand.

 

Ons het geensens nodig om te gaan veg op die oorlogsfront nie.  Satan is reeds oorwin.  Verslaan.  Ons moet net hom weerstaan in Jesus Christus.

En ek dink toe aan Jak 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

 

Ons moet die Woord ken.  Ons moet Bybelversies eet, drink en slaap.

Dis die verweer wat ons staande hou teen Satan.  Ek skryf vir my verse neer op karton stukkies en plak dit teen my spieël.  Elke keer wanneer ek grimeer, leer ek.  Nie uitnemende vegkunste nie.  Net die Volle Wapenrusting van God bedek met die atmosfeer van gebed.

 

My liewe lesers,  as jy nog nie beklee is met die Wapenrusting van God nie, moet ek by jou pleit vanaand.  Gaan beklee jou.

Helm van verlossing  –  Jesus is verlossing

Borswapen van geregtigheid – Jesus is geregtigheid

Gordel van waarheid  –  Jesus is die waarheid

Skoene van Evangelie van vrede  –  Jesus ons Vredevors

Skild van geloof – Jesus as Middelaar

Swaard van die Gees  –  Die Woord(Drie-enig Almagtige!)

 

‘Our God – The Great I AM!!!!!’

 

Janine Visagie


Leave a comment

Your email address will not be published.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

2 thoughts on “Die Wapenrusting van God – Pinkster 2017